Monday, July 19, 2010

Karre!


Elke brak is ‘n petrol-stert.

Ons is nie vreeslik snobisties oor waarin ons ry nie, solank ons net kan ry! Die brom van enjins, die fibrasie van daardie groot staalstruktuur en die reuk van uitlaatgas maak iets oer-opwindends los in elke hond se hart.

Moenie my vra waar dit vandaan kom nie.

Miskien is dit net die idee om baie vinnig te beweeg sonder om self te moet hardloop.

Ek self ry met ‘n bietjie meer waardigheid as meeste van my spesie. Ek hang nie halflyf by die venster uit nie, en ek blaf nie histeries vir enigiets wat langs die pad verbykom nie. Die wind krap my hare deurmekaar en my ore is sensitief. Maar daar is iets te sê om jou lippe so in die wind te laat klap. Dit is nogal snaaks – steek jou kop by die venster uit terwyl jy bestuur en probeer dit bietjie.

Honde bespreek graag motors. Hulle blaf daaroor (‘my mens se sessilinder doen soveel liter per kilometer!’ ‘Ag twak man, ek ken daardie model en hulle is baie swaarder op petrol!’ ‘Nie as mens die enjinrevolusies beheer nie!’ ‘Ek weet hoe jou mens bestuur, en sy brand verseker meer petrol as dit!’ ‘Jou mens se motor kan nie eens genoeg wringkrag uitskop om teen daardie bult uit te kom nie!’ Ensovoorts ensomeer. Party van hulle raak heel tegnies, en blaf van newtonmeters en katalisators.

En vir julle klink dit alles net soos woef-woef-woef.


2 comments:

  1. Willem ry baie graag maar ek dink dit is omdat hy weet hy gaan winkel toe en daar is dalk meisie honde. Hy is vreeslik besig binne in die kar en wil eintlik self bestuur maar as hy in die tru spieel kyk sien hy net sy ore. En natuurlik kan hy of die pedale trap of die stuurwiel draai maar nie altwee nie. Maar na 'n tydjie, as hy eers besef sy bestuursvernuf laat veel te wense oor, raak hy 'n soet passasier,

    ReplyDelete
  2. Hoekom moet jy self bestuur as jy 'n chauffeur het????

    ReplyDelete