Tuesday, August 31, 2010

Happy birthday, Willem!


Wat het die sogenaamde ‘middeljare’ so ‘n slegte naam gegee?
Mens kan wel nou nie meer jou oggendkoerant lees sonder ‘n bril nie. Maar brille kan heel sexy wees.
Glo my.
Dan is daar die probleem wat baie van ons met gewig optel. My veearts bevestig dat ‘n bietjie van ‘n speklaag mens meer stamina gee. Jy dryf beter en kry minder koud.
Pyne en skete? Ja. Maar aan die ander kant is sommiges sommer van kleins af trietsig. ‘n Bietjie brannewyn en siedaar! Alle litte is weer ge-olie.
Grys? Dui wysheid aan. Plooie? Werk goed vir ‘n spanjoel.

Ek kan nie fout vind met die middeljare nie. Ek is nog pure hond.

Hopla!

Monday, August 30, 2010

Om jou neus te volg


Die standpunt dat iemand ‘sommer net sy neus volg’ is ‘n vorm van kritiek. Vir mense beteken dit gewoonlik dat so ‘n persoon nie mooi dink oor wat hy/sy doen nie, en dus ‘n spoor volg sonder om te weet waarheen dit lei. 

Politici doen dit dikwels. Lees net die koerant.

Die probleem is dat mense se neuse verspotte organe is wat selfs as versiering misluk.

Ek beskou die neusvolg sêding as 'n vorm van omgekeerde antropomorfisme: honde se neuse is ‘n heel ander saak en dit laat ons selde in die steek.

Ons weet wat ons doen.

Los ons brakke om ons snoete te volg, maar kyk liewer waar julle loop.



Sunday, August 29, 2010

Willem vir president!


Hoekom is Maandae so bloouu??
Daar is seker positiewe maar veral negtiewe aspekte aan hierdie 8 tot 5 Maandag tot Vrydag rangskikking waaronder so baie van julle lei.
Ek self het niks teen roetine nie. Ek het my gewoontes. Maar ek het al voorheen my opinie gelug dat ‘n basiese denkfout gemaak is met die toekenning van watter dele van die opgesnyde week aan werk en plesier spandeer moet word. Duidelik  moes dit andersom gewees het: rus Maandag tot Vrydag en werk (so bietjie) die ander twee dae.
Meer sinvol, nê?

Lentekoors!


Die blommetjies bloei, die bytjies zoem. Die voëltjies is vrot van verliefdheid en bou oral nessies.
Dit is sulke tyd.

Al die rusteloosheid in die lug maak my sommer moeg. Elders in die wêreld word die blare bruin en die bere maak reg vir ‘n lekker lang slaap.

Dit is alles tog relatief. Julle behoort van beter te weet. Dit is net weersomstandighede: ‘n bietjie warmer son, langer dae, die ruik van blomme in die lug …

Hopla!!!

Thursday, August 26, 2010

7 gebruike vir gevriesde ertjies


  1. Peashooter ammunisie – vir daai kat op die dak
  2. Gooi dit in ‘n bak en druk jou bierkan/koeldrankblik/rummenkouk daarin om dit vinnig koud te maak
  3. Sit dit op jou kop as jy babbelas is
  4. Gooi ‘n sarsie van hulle by iemand se ruggraat af wat jou irriteer
  5. Trap ‘n paar in iemand se mat in (wat jou irriteer)
  6. Gooi ‘n handvol in iemand se baadjiesak of handsak , of sit dit op hulle motorsitplek neer (sien boonste twee)
  7. Reig dit in ‘n stringetjie as ‘n oulike verjaarsdag geskenk vir ‘n vegetariër.

Wednesday, August 25, 2010

Suburb fauna



Broef-Broef beweer dat die suburbs my vet en lui gemaak het.
Wat weet hy?
Die intriges hier is net meer subtiel. Die challenges lê op ‘n ander vlak.
Daar is, byvoorbeeld, die rot-dier wat in ons tuin woon. Mense sê ek moet ontslae raak van hom. Maar het hulle al sy tande gesien?
Natuurlik is ek nie bang vir hom nie. Die ding is net dat hy nogal goeie geselskap is. Hy weet altyd waar elke kat is, en hy ken elke swak plek in hul roetines (daar is baie). Hy ken ook elke huishouding se geheime, skandes en wegsteekplekke.
Die fisante en tarentale is dom. Hulle is daar om gejaag te word. Maar daar bly plat meerkatte onder by die stroompie wat hulle storie ken.
En daar is ‘n uil waarmee ek soms gesels (as die rot-dier nie by is nie).
Die suburbs is vol wildlewe, dus.
Nou praat ek nog nie eens van die mense nie!

Tuesday, August 24, 2010

Vroumens!



Broef-Broef het vir my foto’s van die handsakhond gestuur (sy was blykbaar ook al in Huisgenoot ensovoorts maar ek het nie tyd vir tydskrifte nie, hehalwe miskien Science wat ek on-line lees, en soms National Geographic as ek by die haarkapper wag). Haar naam is blykbaar Chloë, maar kom ons noem haar sommer Kloutjie.
Want sy klou. En haar kloue is skerp!
In elk geval, dit lyk vir my of sy beslis al bietjie ‘werk’ laat doen het. Kyk, sy is mooi, hoor! Wollerig. Mens kan sommer sien sy ruik soos lente gemeng met spaghetti bollenys.
Maar haar mens se plastiese chirurg het duidelik geld gemaak uit daai spits neusie, so perfek soos ‘n ‘traffic cone’, en geen normale hond se ooglede is getilt soos ‘n gisha girl s’n nie.
En ek sweer sy dra maskara.

Monday, August 23, 2010

Meer skande in die familie!


My oom Broef-Broef se verhouding met Paris se handsakhond wankel woes. Hy het my gister oor sy middagete gebel (New York tyd natuurlik – hoe ongeskik!). Lyk my daai brakkie raak al hoe meer besitlik.
Broef-Broef vermoed sy het ‘n private speurder aangestel om hom dop te hou.
‘Vermoed?!’ wou ek weet. ‘Jy behoort nie so iets te vermoed nie, met jou opleiding behoort jy so iets dadelik agter te kom!’
Ek het liefs nie verwys na die feit dat hy nooit sy opleiding voltooi het nie, want as jong hond is hy mos geskors uit die Internasionale Speurskool.
‘Met vandag se tegnologie is dit nie so maklik nie!’ wou hy beweer.
A nee a.
Dalk moet ek New York toe om hom ‘n ding of twee te gaan leer?

Sunday, August 22, 2010

Kollektiewe lamlendigheid


Mense is slim. Hulle kan vlieg al het hulle nie vlerke nie. Hulle kan strepies in tandepasta sit.

Mense is só slim dat die oorgrote meerderheid van die spesie heeltemal afgeleer het om te dink.

Met die koms van ‘reality TV’ hoef hulle nou nie eens meer hulle eie lewens te hê nie.

Katte en honde lei ook soms daaraan. Hulle raak bederf en gewoond daaraan dat hul huismense vir hulle sorg.
Verloor hul jaginstink. Hul nuuskierigheid. Hulle instinkte.
Raak, soos mens in Engels sê ‘complacent’.

Oppas!

Die bure se kat en kwantum superposisies



Vandag sit die bure se kat al weer op die droë kolletjie op hulle dak. Gaan hy ooit daar afval?
Dit is die moeite werd om te kyk.

Maar ‘n kat op ‘n dak val nooit af as mens vir hom kyk nie, baie soos die Engelse se ‘watched kettle that never boils’.

Scroedinger is nog een wat katte dopgehou het, al was dit net as dink eksperimente. Sy idee (‘n goeie een, volgens my) was om ‘n kat (soos die bure s’n, byvoorbeeld) in ‘n boks toe te maak saam met ‘n toestel wat wag vir ‘n alpha partikel om die gees te gee. Sodra dit gebeur, sal ‘n hamer ‘n flessie prussiese suur stukkend breek en die kat skop die emmer.

Nee, dit is nie nodig om ‘n emmer ook in die boks te sit nie.

Omdat die alfa partikel se gedrag totaal onvoorspelbaar is (vir ons) is die  triek dan om te sit en wonder of die kat nog lewendig is of nie. (Om te kyk, bedref alles).

Soos wat ek nou sit en wonder of die kat van die dak af gaan val, of nie.

Dit hou mens nogal besig.

Saturday, August 21, 2010

Refleksie op ‘n reënerige Saterdagmiddag


Eksamens?
Belaglike geleenthede. Nietemin het ek nog altyd redelik goed, selfs soms uitstekend, in alle eksamens presteer wat ek moes aflê. Spoorsny, skyfskiet, geskiedenis, Russies …
Die hele boedel.
En nou moet ek weer graad 6 saam met my mens ook leer.
Elke middag.
Daar is nie veel nuwighede vir my nie en ek slaap gewoonlik, of lees ‘n ander boek. Soms Google ek bietjie.
Ek lees my Facebook bladsy en skryf my blog. As dit reën, soos vandag, lê ek op my bed en hou die kat oorkant die straat met ‘n verkyker dop. Hy hou nie van nat nie, maar daar is ‘n plekkie op sy huis se dak wat droog bly en waar hy graag lê om voëltjies dop te hou.
Die voëls hou ook nie van die reën nie. Behalwe vir die hadedas en die reiers, want die wurms en die paddas hou wel van reën.

Mis ek ooit die aksie van my speurhond-dae?
Hoe kan ek as daar soveel is om my besig te hou.

En my dae van speurhond speel is ook nog lank nie oor nie.

Thursday, August 19, 2010

Dink-eksperimente: meer agtergrond

Kom ons spring ‘n paar basiese filosofie lesse (ek kan altyd later weer teruggaan daarna, nê?) en takel iets wat ‘n praktiese probleem is amper elke dag.
Die probleem van intelligensie.
Koolstof-gebasseerde intelligensies (soos honde en mense, nie rekenaars nie) is veronderstel om dinge te kan doen omdat hulle dit verstaan. Kunsmatige intelligensies kan dikwels dieselfde dinge doen, sonder om enige begrip te hê van wat hulle doen. Dink maar aan jou sakrekenaar, as jy my nie glo nie.

Sou dit nie wonderlik gewees het as dit altyd waar was nie!
Ongelukkig volg meeste koolstof-gebasseerde intelligensies ook maar net algoritmes, soos rekenaars, en daarom neem hulle baie dom besluite.
Dink maar aan politici, as jy my nie wil glo nie. En die vorige staatsamptenaar waarmee jy te doen gekry het.

Dalk is jy self ‘n staatsamptenaar.
Dalk tree jy net soms soos een op ..

Pavlov sou sy kop wys knik, op hierdie punt.

Wednesday, August 18, 2010

Eksperimente in praktiese filosofie

Les een: ontmoet die grense van jou eie bewustheid.  

Sit ‘n tafel in ‘n kamer in die middel van die nag. Skakel die lig af.
Die tafel verdwyn.

Bestaan die tafel steeds?

(Hierdie is moeiliker vir honde, wat nog steeds die tafel kan ruik. Maar dit werk goed vir mense.
Probeer. It is a life-changing experience.
Moet net nie in die donker in die tafel vasloop nie.)

Tuesday, August 17, 2010

Filantroop, Pierewaaier en Vryskut Joernalis


Vandag is Broef-Broef ‘n bekende brak. Hy het nou weleswaar nie ‘n Speurhond geword soos ek nie, maar sy lewe was, en is steeds, vol avontuur.
Mens kan hom beskryf as ‘n vryskut joernalis, ‘n filantroop en ‘n pierewaaier.
Deesdae meer pierewaaier as enigiets anders, as jy my vra!

Kom ons goed oor die weg?
Kom aan! Hy steek heeltyd die familie in die skande. Hy maak net wat hy wil. Hy het ‘n slegte reputasie met die wyfies.
Hy is lief vir sy heupvles en soms is hy selfs gevaarlik.

Boonop noem hy my ‘n polisiehond.

Ek moet my kant van die saak verdedig.

Monday, August 16, 2010

Disgrace!

Die Broef-Broef storie oor sy skorsing uit die Internasionale Speurskool gaan voort ...

Sy finale oortreding was niks erg nie.
Maar omdat geen meer as drie oortredings in die Internasionale Speurskool geduld word nie, moes hy uit.
Ek dink hy het dit heeltemal aspris gedoen. Andersins was hy dalk, soos die Engelse sê, ge-‘frame’.

Hy het op die Direkteur se persiese tapyt gepipi.

En Broef-Broef was op straat.


Broef-Broef stoutighede in filosofiese konteks.

Dit help nie ander mense probeer jou vertel hoe goed werk nie.

Daar is basies net twee maniere van leer: deur dinge vir jouself uit te dink, of deur ervaring (daardie ou storie van die donkie wat sy kop stamp).

Gaan lees self Kant en Hegel as jy my nie wil glo nie. Hulle gebruik net BAIE meer woorde om tot op hierdie punt uit te kom.

Alternatiewelik: dit vir maar jouself uit, aangesien ek nou juis sê dat tweedehandse kennis van min nut is.



Dit was juis Broef-Broef se probleem: hy wou vir niemand luister nie. En in die Internasionale Speurskool, waar dissipline op militêre standard is, het hierdie probleem van hom gou-gou moeilikheid veroorsaak.

Na die derde waarskuwing is hy geskors.

Eerste waarskuwing: nadat hy 'n ampsmotor (met volle polisiebegeleiding) gekaap het om by 'n worshond wyfie te gaan kuier.

Tweede waarskuwing: Almal weet tog jy mag 'n soentjie steel as 'n ster verskiet. Broef-Broef het met die koördinate van 'n sateliet gepeuter om 'n verbyvlug te doen op 'n somersaand waarop hy 'n romantiese piekniek beplan het. Na bewering was die worshondjie lank reeds vergete en 'n ander wyfie was betrokke.

Die derde waarskuwing het darem niks met wyfies te doen gehad nie. Hy het bloot 'n papierdun waterbom in die Eerste Minister se onderbroek geplant om te wys hoe swak sekuriteit is. Hulle het niks daarvan gehou nie. Die Eerste Minister ook nie.

Maar sy volgende oortreding was die laaste strooi ...

Sunday, August 15, 2010

Broef-Broef as jong leerling van die Speurskool

Soos die lesers van my stories weet, is ons lyn ‘blue roan cocker spaniels’ nie gewone honde nie. Ons praat, ons speel skaak (ek het daardie spel heelwat verbeter met ‘n paar van my eie reëls) en ons kan geleer word om bykans enige ding te doen met ons slim pote. Soos tik, byvoorbeeld.
Een probleempie wat ons het, word ek gesê, is dat ons vir onsself dink en nie daarvan hou om bevele uit te oeffen nie.

Natuurlik. Daarvoor is daar mos Duitse Herdershonde.

Nou, Broef-Broef is een van my slimmer familielede, al moet ek dit nou self erken. En as jong hondjie het hy aanvanklik verskriklik goed gevaar in die Internasionale Speurskool. Eers het hulle hom opgelei in gewone speurhond vaardighede: spoorsny, waghou, en om dinge uit klein gaatjies te gaan haal waar mense nie inpas nie.

Maar gou het hulle gesien hy was tot veel meer in staat …

Friday, August 13, 2010

Swartskaap


Broef-Broef, die sogenaamde eko-joernalis, is ‘n drop-out van die Internasionale Speurskool (my ou alma mater)
Ek sê dit nie om hom in ‘n slegte lig te stel nie. As dit nie daarvoor was nie, sou hulle my seker nooit as student ingeskryf het nie.
Gee die duiwel wat hom toekom.
Nie dat ek Broef-Broef as ‘n duiwel wil beskryf nie … maar hy was ongelooflik briljant en het aanvanklik baie goed gevaar in die Speurskool.

Miskien het hy net met die verkeerde vriende deurmekaar geraak.

Thursday, August 12, 2010

Eko-joernalis

My oom Broef-Broef het al verskeie avonture oorleef.


Daar was, byvoorbeeld, die keer toe hy himself met ‘n knipmes uit ‘n luislang se maag losgesny het in die bosse van Borneo.

En die keer toe hy sy lewe losgewen het in ‘n pokerspel met ‘n spul honger leeus. Maar almal weet tog leeus is absoluut hopeloos met lieg, en daarom is hulle slegte poker spellers!

Maar nou gaan hy te ver. Hy verwys na homself as ‘n’eko-joernalis’.

Sowaar!

Vir ‘n ou wat meeste van sy tyd deesdae deurbring deur Broadway shows te kyk (hy het selfs al eenkeer in een opgetree! Ja!) en martini’s te drink saam met Paris se handsak-hond (daardie romanse sal seker ook nie lank hou nie. Julle weet hoe hy is oor wyfies ?) is dit ‘n baie pretensieuse aanspraak.

Al eko-vriendelike ding wat hy doen is om nou en dan in die park te bollie en sodoende bietjie stikstof aand die grond te verskaf.

Wednesday, August 11, 2010

Kurrikulum


Ek doen elke middag saam met my klein mens huiswerk. OK, ek verleen morele ondersteuning aan die poging deur op die boeke rond te lê en te snork.
Maar nou en dan gooi ek ‘n oog oor die inhoud van daardie boeke.

Wat leer julle julle kinders deesdae?

Wat op aarde dink julle moet hulle doen met al daai oorbodige kennis? Dit is kwalik interessant.
En hulle leer verkeerd: lyste goeters wat ander mense uitgedink het.

Julle het die kat aan die stert beet.

Die eerste ding om vir kinders te leer, is hoe om te dink.
Ek stel voor julle begin met Logika in graad 1, en volg dit dan op met sagte filosofie. Daarna kan mens basiese natuurwette van die begin af aanpak, soos Copernicus en Newton.
Dit gee dan sommer ‘n gevoel vir die onwikkeling van Kennis.

Dit sal baie van die probleme van hierdie kits-samelewing van julle oplos.
Glo my.

Tuesday, August 10, 2010

Ontbyt


Broef-broef se eier-in-die-gat broodjies:

Dit is fantastiese gemaks kos en ‘n lekker olierige ontbyt, veral as jy tamaties sommer so langsaan in die pan braai.

Druk ‘n gat (met ‘n glas of ‘n koekiedrukker) in ‘n sny brood of twee.
Smelt botter (regte botter) in ‘n pan en gooi die brood in.
Breek ‘n eier in elke gat.
Braai tot eier stol, draai dan om en gooi gerasperde kaas op die gebraaide kant.
Braai nog ‘n bietjie.

Neem ‘n koerant, ‘n glas lemoensap, en besluit jy gannie vandag werk nie.

Monday, August 9, 2010

Gelukkige wyfiedag xxx

Aan al die wyfies in my lewe (veral daardie wollerige enetjie in Petunia straat): Gelukkige Wyfiedag!

Wat sou van ons geword het sonder julle skoonheid en sjarme? Die wêreld sou ‘n droë plek gewees het, sonder cupcakes en pofferige kussings.

Tragies.

Al is meeste van julle effens obsessief-kompulsief, het ons julle lief net soos wat julle is. ‘n Paar woorde van advies, op hierdie geleentheid:

• Mens hoef nie so baie te bad nie.

• Deurmekaar hare is sexy

• Die afstandsbeheer is ‘n manlike bykomstigheid: dit pas julle NIE

• ‘n Resep hoef nie slaafs gevolg te word nie. Sit gerus meer botter in.

• Beddens slaap lekkerder as hulle deurmekaar is, en ‘n paar honde in het om jou voete warm te hou

• Lipstiffie is ‘n lawwe idee

Ek kan aangaan, maar nou ja, dit is julle dag.

XXXXXX !



Ps : Katwyfies ? OK, julle ook.
Maar net vandag.

Sunday, August 8, 2010

Magnetisme

Almal het ‘n invloed op mekaar.
Positief, of negatief. ‘n Hond wat sy stert vir jou waai: positief. ‘n Lek op die neus: dubbel positief.
Iemand wat kla oor erfbelasting, byvoorbeeld: ek is jammer daardie persoon word so getyster, maar - negatief. ‘n Tannie wat heeltyd haar man kritiseer: dubbel negatief!
Dit is alles dus eintlik heel eenvoudig. Ek weet nie hoekom mense so sukkel nie.
Dit sou dalk gehelp het as julle mekaar meer gelek het.
Jammer tog oor die sterte …

Saturday, August 7, 2010

Plig en plesier - naweekstappie


As ons vir ‘n stappie gaan, hou ek my mens altyd stewig vas aan ‘n leiband.
Jy weet net nie watse moeilikheid hulle kan maak as jy hulle loslaat nie.
Hulle kan nie ordentlik sien of hoor nie, en boonop is hulle neuse stomp.
Ek reken hulle het geen idee van die interessante stories aan die voet van ‘n lamppaal nie. Hulle stel nie belang in vars katspoor of rotmis in ‘n leivoor nie. Hulle gee nie om watter kind in die beurt se kouegom op die randsteen uitgespoeg lê nie en hulle weet nie eens waar die kiewiete beplan om hul nes hierdie jaar te bou nie.
Fisant! Tarentaal!
KAT!
As dit nie was dat ek my mens moet oppas nie ..!

Friday, August 6, 2010

Warm Brak.

My oom Broef-Broef moet verveeld wees. Hy het hom ingeskryf vir ‘n blou lint sjef kursus – daar in New York.
Ek weet nie hoe kan mens in leer kook in New York nie.
Hamburgers?
Ag nee. Plaas hy drink eerder net martini’s en snuif sterte saam met die ander handsak honde.
(So tussen ons gesê – dit sal nogal ‘n handsak en ‘n half vat om Broef-Broef in rond te dra. Veral vandat die amerikaanse kultuur sy boepie nog verder laat dy het. Laas toe ons mekaar ge-Skype het, het hy omtrent die hele rekenaarskerm volgesit.)
Maar nou ja. Ons sal sien hoe dit met die sjeffery gaan.
Ek het hom gevra om ‘n paar resepte aan te stuur.
Ons sal sien.

Thursday, August 5, 2010

Die ekomie van woorde


Sê nou net elke mens het net soveel woorde gekry om te gebruik?
Ek ken ‘n hele paar (belangrike) mense wat dan sommer op ‘n vroeë ouderdom al stom sou wees …
Dieselfde geld seker vir honde se blaf.
Daarom byt party nog voor hulle blaf. Dit is ook gevaarlik.
Iewers moet almal daardie goue middeweg vind tuseen woorde en aksie, en net sommige kry dit reg.
En vir hulle luister ons.
Sit !

Wednesday, August 4, 2010

Meer oor byt


Van al my kollegas beny ek die enkelbytertjies die meeste. Hulle het baie pret!
Ek fantaseer oor mense se enkels, maar is te ordentlik om iets daaraan te doen. Dink net om jou tande so agter die hakskeensening te laat klap, sodat die ou so Shakira-dans uitvoer sonder om te sing.
Jeeee-ha!
En enkelbytertjies het geen gewete nie. Ek ken ‘n foksterriër wat die kuns verfyn het om onder groter honde in te hol (van agter af, natuurlik) en hulle dan stewig aan die whatshallmecallits te gryp – ‘n hele bek vol.
Verbrands vernuftig.
Daar is baie om by hierdie outjies te leer!

Tuesday, August 3, 2010

Angst



Ek het voorheen al laat val dat honde se onvermoë om vooruit te dink tot ‘n mate keer dat ons nie so stres nie. Ons kan ons doodeenvoudig nie bekommer oor wat môre gaan gebeur nie, want vir ons is môre ‘n baie vae begrip en ons het geen illusies dat ons enige van die gebeure van daardie newelrige toekoms kan beïnvloed nie.
Vandag is egter ‘n ander ding. Dit help dat ons nie so baie inhibissies het soos mense nie. Ons kan byt en grom, dit is normaal.
Ons kan ons sterte waai.
Daar is wel intense frustrasies in enige brak se lewe. Vlooie. Koekies wat nie krummel nie. Reuke wat ons nie kan bykom nie.
Dus is honde ook blootgestel aan sekere vorme van stres.
Ons kry ook nagmerries en sooibrand.
Ai.
Angst, ja. Weltsmerz?
Darem nie.



Monday, August 2, 2010

Moedertaal


Ek praat verskeie tale. Dit was onafwendbaar, weens my herkoms en natuurlik my opleiding in die internasionale speurskool.
Honde het ‘n natuurlike talent vir tale. Ons praat net nie graag kat nie. Dit is ‘n taal daardie wat regtig jou ore laat suis. Soveel vloekwoorde! En lelikes, hoor.
As ‘n Spanjoel is ek natuurlik basiese Spaans magtig. Ingebore. My opleiding was meestal in Engels, want dit is mos die taal wat sogenaamd ‘n akademiese paspoort is. So sê hulle, en dit is waar dat die meeste handboeke wat ek moes bestudeer, in engels is.
Ander Europese tale: natuurlik. Hoe kan ek werk daarsonder? Frans is nodig vir elke ordentlike flirtasie, en kos proe beter in Italiaans.
Afrikaans is lekker want dit raak sommer aan alles en dit is net reg op die tong. Ek is mal daaroor want dit is die taal wat my huismense praat, en hulle praat dikwels van kos.
En stap.
En kussings.
En nog koekies.
Mooi woorde!

Sunday, August 1, 2010

Swartskaap?

My oom Broef-Broef? My ma se broer – dieselfde werpsel, maar hulle het nooit mooi aan die selfde speen gesuig nie.
Die broer van haar het homself nog altyd te belangrik geag. Hy het jonk begin werk vir die diplomatieke diens, en ek moet erken hy het nogal goed gevaar. Hy het in verskeie ambassades dwarsoor die wêreld gedien,  Hy was lank in Rusland. Nou ja, wie weet vir presies hy gewerk het.
Deesdae is hy ook sogenaamd ‘afgetree’. Hy is baie ryk – niemand weet waar sy geld vandaan kom nie. Dit is dit is baie suspisieus, as jy my vra …
Hy hou van meisies, vinnige karre en enigiets buitengewoons.
Hy hou ook van brandewyn.