Tuesday, January 25, 2011

As ek 'n mens was...


As ek ‘n mens was, sou ek:

Moes geld verdien, ‘n bankrekening hê en ‘n kredietkaart, ‘n kar moes koop of ‘n taxi moes trotseer, ‘n trollie moes stoot in die supermark, moes weet hoe om te kies tussen sewe van dieselfde soort goed, almal waarskynlik sleg vir my, die weirdo’s in die ry by die kassier moes ontwyk, onthou om inkopiesakke te bring, my kredietkaart se pin-nommer ken, self my inkopiesakke huis toe piekel, dit uitpak, die kos maak, dit opskep, weer agterna alles was en wegpak. En dan weer nog geld gaan verdien want kos raak op.

Nou eet ek net. En ek worry oor niks nie.

En dit noem julle ‘n hondelewe?

Sunday, January 23, 2011

Die Groenewald familie


Oor die laaste jaar het ‘n paar dikkop families hier in ons buurt ingetrek. Dit is nou die voël-tipes; die menslike Dikkop-variasies is lankal volop.
Hierdie voël-goed is mos erg teritoriaal en op ons oggend staproete is daar twee loslopers wat ons elke dag teëkom. Vir duidelikheid sal ons hulle name gegee: Langhans Visagie en Piet Groenewald.
Langhans staan langs die besigste straat in die buurt. Vir lank het hy ogies gemaak vir ‘n langbeen meisiekind wat ‘n paar erwe laer af ronddwaal. Vir ‘n rukkie het sy opgeskuif en langs hom ingetrek, maar dit lyk vir my na ‘n aan-en-af verhouding.
Piet Groenewald is minder van ‘n pierewaaier: ‘n rustige kêrel. Hy staan op ‘n stil plek. Hy het gou getrou en hy en sy vroulief, kom ons noem haar Bianca, het met erns begin broei.
Hierdie dikkoppe is nou nie eintlik vlytige nesbouers nie, maar elke oggend, soos die son vroeër en vroeër begin opkom, het ons die twee om die beurt op die plek sien sit waar die eiers versteek was. En een skemeroggend hol die kuiken (en wat ‘n lelike kuiken is ‘n dikkop kuiken nie!) vrolik daar tussen die roosbome rond.
Piet en Bianca moes bontstaan.
Elke oggend is ons doodbenoud om te sien of die outjie die nag oorleef het. Daar is uile, en katte, en ‘n spul eendstert-kraaie. Dit is ‘n stryd om genoeg wurms bymekaar te kry. Die lewe is taf as jy so op die grond moet bly.
Naderhand staan die kuiken se kop net so hoog soos Ma en Pa Groenewald s’n en ons is verheug – die outjie het sowaar oorleef.
Maar een oggend is die dikkoppe weg en ons kry die treurige bondeltjie in die straat – kleinboet is platgetrap deur ‘n Dikkop in ‘n kar.
En dit kort voor Kersfees.

Maar eergister gaan stap ons weer, net voor sonop. Met die terugkom kry ons vir Piet en Bianca omtrent reg voor ons deur, blasend van trots. Om hul pote hol twee wollerige dotjies op lang bene rond.
Twee!
Omtrent dadelik het een by ‘n drein afgeduiwel en ons moes hom red. Wonder bo wonder oorleef hulle dag een, en vind hul pad terug na die roosbedding waar hulle veiliger is, ‘n hele ent met die bult af. Ons kry hulle donkernag in die straat: die kleintjies kan nie by die randsteen op nie maar ‘n buurman help hulle sagkens met ‘n besem aan.

‘n Nuwe buurtwag is gestig. Almal hou ‘n oog en elke dag groei die Groenewald-kroos bietjie sterker.

Ons hou duim vas.

Sunday, January 16, 2011

Occam se skeermes


Nou wil iemand weet hoekom die trol wat onder ons huis bly altyd die skuld kry as dinge hier skeefloop.
Hierdie iemand is natuurlik nie ‘n lid van ons gesin nie, andersins sou hy nie so ‘n gevaarlike vraag durf vra het nie.
Die afleiding dat die trol verantwoordelik is vir die skêr wat weer soek is, die skielike verdwyning van al die botter in die kombuis, die klein skrapie aan die linker agterdeur van die gesinsmotor en selfs sekere items op die kredietkaart staat, is bloot logiese kombuis filosofie.
William van Occam, ‘n Fransiskaanse kerk-ou, het in die 14de eeu al voorgestel dat dinge nie onnodiglik ingewikkeld gemaak moet word nie.
En omdat hy ook ‘n ‘Willem’ is (of was) kan mens gerus vir hom luister.
Ander moontlike teorië is dat iemand die skêr alweer gebruik het om ‘n stuk blik te sny. Die lemme is nou sat en daai iemand het die skêr in die tuin gaan begrawe voordat Mammie dit agterkom.
En iemand anders wou die teorie van katte met botter aan hul pote wetenskaplik beproef. Ek skryf dalk anderdag oor daardie resultate.
Die skrapie aan die kar en die kredietkaartstate laat ek aan julle verbeelding oor, maar julle sien my punt?

Dit is nie ‘n sleg ding om ‘n trol in die huis aan te hou nie.

Spoke en ander huismaats



Die ding met spoke is dat hulle maak net wat hulle wil. Hulle is, so te sê, bokant die gereg en dit help nie om vir ‘n spook te vra om by die voorgelegde reëls en regulasies te hou nie.
Dit is maar die beste om die vrede met hulle te bewaar. ‘Spook’ is ook ‘n werkwoord, en mens moenie met jou spook spook nie. Nie ‘n maklike geveg om te wen nie…

Ek beveel dus aan om ‘n spook laat spook na hartelus, of minstens totdat hy uitgespook is. Spoke het ‘n kort aandagspan en raak gou vervelig (en verveeld).

Ons het ‘n huisspook en ook ‘n trol wat onder ons huis bly. Die trol is lastig want hy dra goed rond.
Dalk is dit die spook wat dit doen, ek is nie heeltemal seker nie.
Boonop ruik die trol nie baie leker nie. Ek word baie keer beskuldig van onaardige reuke, maar dit is eintlik daai trol.
Sowaar.

Dit help om die twee van hulle in die rondte te hê, veral met my waghond werk. Hulle sorteer die meeste probleemgevalle maklik uit. Ek kan net bietjie grom en ‘n paar keer blaf, maar dit is eintlik die spook agter my wat die boewe laat spaander. Of die trol wat hulle met die pan oor die kop slaan.
Sien, trolle en spoke is baie territoriaal. Hulle het egter nie goeie sosiale insig nie en almal wat hier aankom is nie noodwendig boewe nie. Maar, nou ja!

Spook en Trol is ook soms goeie geselskap, maar net as jy baie, baie desperaat is.
En hulle hou ook niks van katte nie.
Dit tel in hulle guns, nie waar nie?


Sunday, January 9, 2011

Oujaarsaand op die dak.



‘n Paar mense het my nou al gevra waaroor ek en die kat nou eintlik gepraat het op Oujaarsaand, daar op die dak van sy huis oorkant die straat.
Wel, daar is ongelukkig nie ‘n kort antwoord op die vraag nie.
Julle weet mos hoe dit met oujaarsaande kan gaan, veral as daar ‘n flessie aapsap byderhand is.
En die kat is ook nie ‘n ou wat nee sê vir ‘n knertsie aapsap nie, so op sy tyd.
Ons het goed begin en oor allerhande dinge gepraat. Soos swaartekrag, byvoorbeeld. Al ooit gedink hoe lastig swaartekrag soms kan wees?
Veral as jy op ‘n dak sit en aapsap drink.
Hoe later hoe kwater, en ons het met allerhande slimmighede vorendag gekom. Onder andere het ons die ontwerpsfout bespreek wat gemaak is toe  smaakbekertjies net op die tong  gesit is. Dit sou soveel beter gewees het om hulle al die pad af met die keelgat te hê, tot in jou maag. Dan kan jy daai cupcake, byvoorbeeld, vir veel langer proe. Dit sal beter wees as smaakbekertjies by die maag ophou, natuurlik. Mens wil hulle eerder nie veel laer af in die derm akkomodeer nie …
Miskien vind een van hulle slim mense nog eendag smaakbekertjie oorplantings uit.
Moet net nie die kat s,n op my oorplant nie: ek wil liewer nie van vis hou nie.
Grillerig.
Ons het nog so ‘n paar ander slimmighede ook uitgeruil, en op ‘n stadium het ons begin sing. Ek onthou nie veel verder nie.

My kop was dae lank seer en ek het nou nog nie sover gekom om nuwejaarsvoornemings te maak nie.