Thursday, December 30, 2010

Koebaai oujaar!



Honde werk natuurlik op ‘n effens ander kalender as mense. Daar is mos sewe van ons lewens jare in elkeen van julle s’n.
Maar aan die ander kant gaan tyd ook weer baie stadiger vir ons verby. Hou enige hond dop, en sien vir jouself.
Maar dit keer my natuurlik nie om ook op die oujaar se verbygang te vier en die nuwe jaar behoorlik in te party nie. Op die laaste aand van die jaar kry ek en die  die kat hier oorkant mekaar gewoonlik vir ‘n dop en miskien ‘n sigaar. Ek klim dan saam met hom op sy dak en ons beskou die vuurwerke.
(Danksy my opleiding in die Internasionale Speurskool maak ‘n paar klappers my nie bang nie, maar die dak voel veiliger, selfs met ‘n kat daarop.)
Natuurlik hou hierdie skietstilstand nie langer as die eerste dag van die nuwe jaar nie.
Die kat verstaan my terme.

Maar nou is dit eers tyd om terug te kyk na die jaar wat verby is (of sewe jare, vir my) voor ek en die kat die nuwe jaar insing. (Ja, dit raak soms raserig op ons dak!)

In die jaar wat verby is, het EW begin om Adriaan se kant van ons stories in boekvorm neer te pen. Een is klaar gepubliseer, nog een kom binnekort op die rakke en daar is nog ‘n paar in die kas.
Die hele gedoente het my effens in die kollig geplaas, maar ek steur my nie veel daaraan nie. My ware reputasie is verskuil in die skadu’s van internasionale boewery, en dit is waar dit saak maak.
Omdat ek dikwels verveeld is hier in die voorstede, so tussendeur die avonture wat oorvertel word in die boeke, spandeer ek baie tyd in die kuberruimte. Dit hou my in kontak met die groot wêreld daar buite. Terloops, die kat oorkant die straat weet sowaar nie eens wat in die volgende straat gebeur nie. Ek dink nie eens hy weet dat die wêreld rond is nie, en dat dit die aarde is wat om die son draai en nie andersom nie. Dit is nogal ironies dat sy middelnaam Kopernikus is. (Katte het altyd drie name, maar wie gee om?)

Nou gaan ek eers ‘n bietjie kou aan idees vir die nuwe jaar.
Hou die spasie dop …

Monday, December 20, 2010

Ligloop!



Daar is onrus in die hemelruim.
Dit is amper volmaan. Die 20ste/21ste Desember is daar ‘n totale maansverduistering, sigbaar vir altwee die Amerikas, noord en suid, maar nie vir ons nie.
More aand is die korste nag van ons jaar. Dit is amper Kersfees en die hele wêreld is aan die woel.
Ons viervoete is baie sensitief vir al hierdie bedrywighede.
Weerwolwe ook, en vampiere. Kersfees elfies is ook nie almal lieftallig nie.
Pas maar op …

Thursday, December 16, 2010

Versoening



Op hierdie dag van rekonsiliasie, wonder ek waarmee ek myself kan versoen. Soos almal, het ek maar my lys griewe.
Meeste van hulle is op een of ander manier te wyte aan katte, of die amerikaners.
Kan jy jou iets erger indink as ‘n amerikaanse kat? (Garfield dalk uitgesluit.)

Daarmee dan, sewe dinge waarmee ek myself nie kan versoen nie:

1. Die kat oorkant die straat
2. Kouegom onder my voetsool
3. Daai amerikaanse president van nou die dag – jy-weet-wie
4. Realiteits programme op televisie (daar is iets fout met die psigologie van hierdie mode, regtig.)
5. Vergaderings, komitees, werksgroepe en ander konglomerasies van verlammende burokrasie
6. Vlooie
7. Katte met vlooie. Katte wat kouegom eet. George Bush se kat. Katte in realiteitsprogramme. Katvergaderings … oeps, meer as sewe.

Ek het duidelik meer van hierdie dae nodig!

Monday, December 13, 2010

Sewe dinge vir elke Kerskous


1.     ‘n Toeter vir die motor wat drie, vier en vyfletterwoorde kan artikuleer in die taal van jou keuse
2.     ‘n Uitgegroeide boom om onder te sit (of in te klim)
3.     Opblaas tarrentale vir die voortuin. Hulle raas nie en eet nie die blombolle op nie.
4.     Geduld, liefde en voorspoed. In ‘n trilogie-bundel.
5.     ‘n Remote control met fast forward, pause, skip en replay vir elke dag.
6.     ‘n Woordeboek met sewe sinonieme vir elke woord. Regtig. Waarlik. Sowaar. Einste. Werklikwaar. Inderdaad. Stroes-bob-njannies-koepella.
7.     Die reuk van varsgemaalde koffie.
    En wat wil Willem vir Kersfees hê?
    Dit is heel maklik: ‘n paar gedroogde katte, cupcakes en ‘n klapsoen.
    Dankie!

    Thursday, December 9, 2010

    Einde van die jaar-ings

    Julle mense is interessant. Julle meet julle lewens in dekades, jare, seisoene, maande, weke, dae, ure en soms sekondes.

    Ons viervoete onderskei tussen lig of donker, warm of koud. Dit is goed genoeg.

    Geen wonder dat meeste van julle stapelgek raak hier teen die einde van die jaar nie. Vir mense veroorsaak hierdie tyd van die jaar ‘n hele berg probleme:

    • Eksamens is geskryf om seker te maak die jaar eindig op ‘n histeriese noot.

    • Nou word die gemaksone verstuur en almal moet rondskuif: na ‘n nuwe standerd, ‘n nuwe instansie van opleiding, ‘n nuwe werk …

    • Kinders is skielik op vakansie en pla almal

    • Stormlope in benoude winkelsentrums veroorsaak enorme mikro- en makro-ekonomiese katastrofes.

    • Babbelas en Galsteen kom kuier. Of skoonfamilie.

    Dit is ongesond.

    Intussen word die weer warmer en die dae langer.

    Dit is goed genoeg vir my.

    Hopla!