Thursday, December 30, 2010

Koebaai oujaar!



Honde werk natuurlik op ‘n effens ander kalender as mense. Daar is mos sewe van ons lewens jare in elkeen van julle s’n.
Maar aan die ander kant gaan tyd ook weer baie stadiger vir ons verby. Hou enige hond dop, en sien vir jouself.
Maar dit keer my natuurlik nie om ook op die oujaar se verbygang te vier en die nuwe jaar behoorlik in te party nie. Op die laaste aand van die jaar kry ek en die  die kat hier oorkant mekaar gewoonlik vir ‘n dop en miskien ‘n sigaar. Ek klim dan saam met hom op sy dak en ons beskou die vuurwerke.
(Danksy my opleiding in die Internasionale Speurskool maak ‘n paar klappers my nie bang nie, maar die dak voel veiliger, selfs met ‘n kat daarop.)
Natuurlik hou hierdie skietstilstand nie langer as die eerste dag van die nuwe jaar nie.
Die kat verstaan my terme.

Maar nou is dit eers tyd om terug te kyk na die jaar wat verby is (of sewe jare, vir my) voor ek en die kat die nuwe jaar insing. (Ja, dit raak soms raserig op ons dak!)

In die jaar wat verby is, het EW begin om Adriaan se kant van ons stories in boekvorm neer te pen. Een is klaar gepubliseer, nog een kom binnekort op die rakke en daar is nog ‘n paar in die kas.
Die hele gedoente het my effens in die kollig geplaas, maar ek steur my nie veel daaraan nie. My ware reputasie is verskuil in die skadu’s van internasionale boewery, en dit is waar dit saak maak.
Omdat ek dikwels verveeld is hier in die voorstede, so tussendeur die avonture wat oorvertel word in die boeke, spandeer ek baie tyd in die kuberruimte. Dit hou my in kontak met die groot wêreld daar buite. Terloops, die kat oorkant die straat weet sowaar nie eens wat in die volgende straat gebeur nie. Ek dink nie eens hy weet dat die wêreld rond is nie, en dat dit die aarde is wat om die son draai en nie andersom nie. Dit is nogal ironies dat sy middelnaam Kopernikus is. (Katte het altyd drie name, maar wie gee om?)

Nou gaan ek eers ‘n bietjie kou aan idees vir die nuwe jaar.
Hou die spasie dop …

No comments:

Post a Comment