Saturday, July 31, 2010

Manipulasie?


Dit is eintlik heel eenvoudig.
Honde het een van twee dinge wat hulle motiveer: balle of kos.
‘n Bal is ‘n wonderwerk! Dit rol en rol en hop …
‘n Bal verteenwoordig, vir party honde, die paradys.
En kos!
Party van ons sal enigiets doen vir ‘n koekie.
Mense is effens meer ingewikkeld.
Mannetjies en wyfies word (meestal) deur verskillende impulse aangedryf: Karre, kurwes en kredietwaardigheid.
Of modes, aandag en die kollig.
Maar een ding bly seker: vind uit wat die groot dryf is in enige mens (of hond) se lewe, en jy kan toertjies uit hulle toor.

Sit!

Friday, July 30, 2010

Australopithekus canis

Honde het omtrent 15 000 jaar gelede ontwikkel. Dit is wat die fosieluitgrawers sê. Die oudste hondfossiel is ontdek in ‘n grot in Kesslerloch in vandag se Duitsland.
Daar is ‘n stryery aan die gang of nog ouer fossiele (gekry in België en die midde ooste) honde was of nie.
Hulle was waarskynlik wilde wolwe.
Van die belangrike verskille tussen ons en wolwe is dat ons breinkaste groter is (natuurlik), ons snoete is stomper en ons oë het aangepas om te kan fokus op een punt.
Mense glo dit is sodat ‘n hond mooi stip na sy baas kan kyk.
Hulle maak ‘n fout.
Dit is om jou kosbak dop te hou.

Thursday, July 29, 2010

Pierewaaier!

My oom Broef-Broef het teruggekap op my aanval op sy berig oor die gorillas in Knysna.

Hy sê nou dat daar nie so iets soos ‘n Jeti is nie, en dus maak ek ook stories op wanneer ek my blog skryf, want ek kon nooit een ontmoet het nie.

Vandat my oom Broef-Broef in New York woon en uithang saam met handsak brakke soos Paris Hilton s’n, raak hy regtig ‘n klad op ons familie se naam.

Die Jeti het my ‘n hele paar dinge geleer: astrale projeksie, en levitasie onder meditasie.

My oom moet my bietjie kom vertel wat het hy by die Knysna gorillas geleer?

En vlooi-soek tel nie.

Wednesday, July 28, 2010

Disney in Irak


Mens moet die Amerikaners seker jammer kry, want hulle is ‘n nasie wat hulle verbeelding heeltemal verloor het. Kyk net na enige Walt Disney fliek: met swaar voete word daar bo-oor enige subtiliteite van die oorspronklike verhaal getrap en alles word verander na ‘n eenvoudige stryd tussen goed en kwaad.
Die klein meerminnetjie. Die nuutste verwerking van Alice se reis deur Wonderland.
Almal van hulle!
En in hul stryd teen die afskuwelike (wat altyd die wêreld wil oorneem om dit te verander na afgebrande chaos) moet die goeie outjies saamstaan, mekaar ondersteun en spanbou oeffeninge doen.
Dan is die einde altyd gelukkig.
Die gevolg van hierdie kultuurdieet is natuurlik die sterk boodskap dat daar geen ‘happily ever after’ kan wees as daar nie eers ‘n vyand is om te oorwin nie.
En as daar nie een is nie, moet een gemaak word.
Dit is hoekom Walt Disney verantwoordelik is vir die oorlog in Irak.

Tuesday, July 27, 2010

Gorillas in Knysna


My oom Broef-Broef het onlangs in ‘n CNN onderhoud die ongelooflike aankondiging gedoen dat hy gorillas in die Knysna woude gewaar het.

Op hierdie lelike misverstand kan ek dalk lig werp.

Dit is waarskynlik te wyte aan die flessie brandewyn wat my oom gewoonlik oral saam met hom neem wanneer hy reis. Ek vermoed dit was die onderliggende rede waarom hy op die verkeerde vliegtuig geklim het en in plaas daarvan om George toe te vlieg, het hy op die vlug na Gregoire Kayibanda geklim, dalk beter bekend as Kibali, in Rwanda.

Dit verklaar sy ontmoeting met die gorillas.

Ek twyfel of hy al ooit in Knysna was …

Monday, July 26, 2010

Wetenskaplike wonders

Julle dink julle is so slim.
Die Europese Organisasie vir Nukluêre Navorsing (beter bekend as CERN – oftewel ‘Conseil Européen pour la Recherche Nucléaire’) is besig met allerhande slim toetse in hulle ongelooflike partikel versnellings tonnel. Die wêreld hou asem op vir of een of ander katastrofe, of ‘n uitvindsel wat alles gaan verander.
In my opinie is die ding wat alles verander het, reeds uitgevind. En niemand het ‘n Nobel prys daarvoor gekry nie.
Ek praat natuurlik van daardie wonderlike uitvindsel wat sagte gansdons vasvang in gestrykde linne, met net die regte kurwe om jou nek te stut sodat daar nie té veel spoeg by die kant van jou mond uitloop as jy snork nie.
Wat menslike vernuf betref, verkies ek ‘n goeie kussing enige dag bo die Groot Hadron Botser.
So, laat die protone maar spin tot hulle blou is. Ek slaap lekker. 

Sunday, July 25, 2010

Mense wat in glashuise woon ...


In Swede het iemand ‘n hotel in ‘n bos gaan bou uit spieëls bestaan – die idee daaragter is dat dit onsigbaar moet wees. Vir mense.

Ha!

Mense is so selfgesentreerd. En dit is ‘n arrogante standpunt vir ‘n spesie met sulke beperkte sintuie.

Niks van hierdie truuks sal ‘n hond bluf nie. Ons sintuie is net soveel meer verfynd as julle s’n.

Voëls is amper net so onnosel soos mense, want om te keer dat die voëls hulself heeltyd te pletter vlieg teen die glas-hotel, moes hulle nou (ten duurste, seker) ‘n spesiale film oor al die glas gaan plak het wat voëls wel kan sien (maar mense kan nie).

Nou ja, iemand het seker meer tyd as wysheid.

Saturday, July 24, 2010

Mense en hul dinge

Jy kry baie tipes. 

Een manier om daarna te kyk, is Kong Qiu (beter bekend as Konfoesius) se verbeelding van die half vol of die half leë bottel.

Party mense is maar te bly hulle kry iets en hou lekker party met daardie halwe bottel. Terwyl andere weer wil weet wie de duiwel die eerste helfde opgedrink het.

Dalk hang dit net af van wat in die bottel is.

Kong Qiu het gepraat van asyn, as ek reg onthou.
In daardie geval is ‘n halwe leë bottel verseker beter as ‘n vol een.

Die wêreld is suur genoeg …

Friday, July 23, 2010

Naweek!!


Jy mag dalk dink dat ek in elk geval nie werk nie (ek is mos ‘n afgetrede speurhond) en dus behoort naweke nie vir my saak te maak nie, maar ek is so mal oor naweke soos enigiemand anders.

Rede? My mense is by die huis en bak pannekoek of lê sommer net agter my rug op die bank.

Gesellig.

As honde die week ontwerp het, was die naweek vyf dae en werk miskien twee.

Net nog ‘n voorbeeld hoe mense die kat dikwels aan die stert beetkry.
Dit is natuurlik net die regte plek om ‘n kat aan te vat.

Hulle haat dit.

Probeer gerus.



Thursday, July 22, 2010

Woede

Almal word maar kwaad van tyd tot tyd, maar wanneer laas het jy iemand gebyt ? Glo my, dit is ‘n wonderlike uitlaatklep.

Mense mag hulself as gesofistikeerd beskou, maar soos ek al voorheen opgemerk het : julle betaal ‘n hoë prys vir al julle fieterjasies.

Vir 'n mens is dit ongesond om jou stert te wip.

Ons honde kan byt en grom.

En as ek regtig spiteful voel, kan ek altyd my been teen jou wiel gaan lig as jy my kwaadmaak.

Heerlik.

Wednesday, July 21, 2010

Londen


‘n Ou vriend van my wat tans op die Seychelles woon, skryf vir my ‘n e-pos en kla oor die Midde-Oostelike sjeiks wat tans daardie eilande in groot dele opkoop en die natuurskoon verwoes met hul weelderige paleise en hotelle.
Hulle voer ook goedkoop arbeid in (moderne slawe) wat daar werk in haglike omstandighede.
Dit is alles waar – ek het dit self gesien laas toe ek daar was.
Wat ek ironies vind, is dat hierdie ou (met trots) steeds ‘n Britse burger is – al bly hy al jare lank in die ou ‘kolonies’.
Wanneer laas was hy in Londen?
Laas toe ék was (en onthou, ek is 'n reisende hond), het ek omtrent nie ‘n enkele Brit gesien nie (wel baie sjeiks en Afrikane en mense van die Indiese Subkontinent, om nie eens van die Amerikaners te praat nie ...)
As dit nie was dat ek bang was ek word weer van ‘n middeljare krisis beskuldig nie, het ek gevra:
Wat word van die wêreld?

Tuesday, July 20, 2010

Die siel van die hond

As jy weer wonder hoekom ‘n brak so hartseer kyk in sy oog het: dit is waarskynlik uit medelye vir ons menslike maats.
Eugene Marais het ‘n interessante teorie oor instink geformuleer: in sy tweede groot werk (die een oor die siel van die aap) skryf die groot man dat instink iets is wat verlore gaan sodra ‘n dier die vermoë ontwikkel om sy eie besluite te neem.
Gaan lees maar self as jy my nie wil glo nie, en kom stry met my indien jy dink dat ek sy werk verkeerd interpreter.
Dus: omdat mense self kan besluit of hulle ‘n vandag ‘n das of ‘n T-hemp wil dra, en of hulle hul nagereg voor of na hul braaivleis wil eet, het hulle ‘n baie duur prys betaal.
Want instink is ‘n wonderlike ding.
Dit verklaar dan ook ‘n hele spul onnoselheid aan die kant van die menslike ras.
(tot groot nadeel vir die res van die planet)
Om katte in die huis aan te hou, byvoorbeeld, is ‘n groot fout. As mense enige vorm van instink gehad het, sou hulle van beter geweet het.
Keuses is dus nie altyd ‘n goeie ding nie.

Monday, July 19, 2010

Karre!


Elke brak is ‘n petrol-stert.

Ons is nie vreeslik snobisties oor waarin ons ry nie, solank ons net kan ry! Die brom van enjins, die fibrasie van daardie groot staalstruktuur en die reuk van uitlaatgas maak iets oer-opwindends los in elke hond se hart.

Moenie my vra waar dit vandaan kom nie.

Miskien is dit net die idee om baie vinnig te beweeg sonder om self te moet hardloop.

Ek self ry met ‘n bietjie meer waardigheid as meeste van my spesie. Ek hang nie halflyf by die venster uit nie, en ek blaf nie histeries vir enigiets wat langs die pad verbykom nie. Die wind krap my hare deurmekaar en my ore is sensitief. Maar daar is iets te sê om jou lippe so in die wind te laat klap. Dit is nogal snaaks – steek jou kop by die venster uit terwyl jy bestuur en probeer dit bietjie.

Honde bespreek graag motors. Hulle blaf daaroor (‘my mens se sessilinder doen soveel liter per kilometer!’ ‘Ag twak man, ek ken daardie model en hulle is baie swaarder op petrol!’ ‘Nie as mens die enjinrevolusies beheer nie!’ ‘Ek weet hoe jou mens bestuur, en sy brand verseker meer petrol as dit!’ ‘Jou mens se motor kan nie eens genoeg wringkrag uitskop om teen daardie bult uit te kom nie!’ Ensovoorts ensomeer. Party van hulle raak heel tegnies, en blaf van newtonmeters en katalisators.

En vir julle klink dit alles net soos woef-woef-woef.


Sunday, July 18, 2010

My mens-familie


Kyk nou maar na die redelike gesofistikeerde huishouding waar ek nou my intrek geneem het.

My mense voorsien my van Internet toegang, ‘n regte vere duvet op hulle bed en die soort van cuisine wat ‘n epikuris soos ek nie te veel frustreer nie. As ek hard konsentreer, kan ek hulle self sover kry om die televisiekanaal te verander na dit wat ék wil kyk. (Dit is eintlik net ‘n mors van tyd, want televisie maak my onmiddelik aan die slaap.)

In ruil vir dit alles doen ek net een ding: ek vergewe hul al hulle foute en het hulle lief net soos wat hulle is.

Dit wil nogal gedoen wees.

Eendag lank, lank gelede


Die assosiasie tussen hond en mens is deesdae heel suksesvol.

Wie weet wat het deur  die eerste hond se kop gegaan wat hom oor Homo antikus ontverm het?

Verbeel jou daardie oer-brak, ‘n magtige jag-wolf. En die beteurterde woestaard van ‘n oer-mens, verslete in ou bokvelle en met gebarste hakskene. 

Dit was sekerlik ‘n baie koue nag, en yskristalle het aan die oer-hond se snor gekleef. Hy het toevallig by 'n grot verby geloop. Die oer-mens vent het vir ‘n slag ‘n haas gevang en was besig om dit te stadig te rooster oor ‘n gesellige vuurtjie. Die oer-hond het saggies ingesluip, sy ore platgetrek, sy kop skeefgedraai en sy stert gewaai.

Hy het so fyn tjankgeluidjie gemaak.

En niks was daarna ooit weer dieselfde vir ons twee spesies nie.

Saturday, July 17, 2010

Gruyère, Béchamel sous en ander onmisbare dinge in die lewe

Een van die redes dat ek so effens oorgewig is (alhoewel ek seker kan argumenteer dat my pels net baie dig is, en daarom aan my so ‘n mooi ronde vorm gee), is waarskynlik hierdie voortreflike resep vir regte Franse croque monsieur (of dan 'Bros Meneer', in Afrikaans). Ek het dit leer maak terwyl ek undercover in ‘n Franse Bistro gewerk het.


Die belangrike ding, soos met alles in die lewe, is om ordentlike bestandele te gebruik.

Lekker gerookde ham – as jy van die Spaanse soort in die hande kan kry waar hulle die varkies akkers voer om te eet, des te beter.

Regte Gruyère kaas, gerasper

Ordentlike brood – as jy dit ‘n drukkie gee moet die korsie vriendelik kraak

Regte botter

Franse mostert (noodsaaklik)

Meelblom en melk vir die sous.

Sout en peper natuurlik. Maldon sout en vars gemaalde swartpeper, natuurlik. My neus is gevoelig vir te veel, so pas op.

Dit is doodmaklik :

Jy maak ‘n ordentlike toebroodjie met die ham, mostert en die helfde van die gerasperde kaas.

Intussen maak jy ‘n behoorlike Béchamel sous. As jy nie weet hoe om een te maak nie, is dit hoog tyd om te leer. Dit is baie soos Adriaan se ouma se witsous: omtrent twee eetlepes botter. Smelt dit. Roer min of meer dieselfde hoeveelheid meelblom by. Voeg bietjie-bietjie melk by en roer die hele tyd tot die spulletjie mooi dik is. Sout en peper ens. ‘n Bietjie vars gerasperde neutmuskaat is tops.

JY MOET ROER!

Skep die sous bo-op jou toebroodjie: soveel moontlik, moenie bang wees nie. Sit die res van die kaas bo-op. Sit die hele spul in die oond en bak tot bruin en krakerig.

Net die regte ding om jou ‘n speklagie te gee teen die koue weer.

Vra my.

Thursday, July 15, 2010

... nog Meer oor honde en Tyd

Die groot rede dat honde ons objektiwiteit (en dus in effek, relatiwiteit) oor tyd kan behou is omdat ons nie vooruit kan dink nie.

Glad nie.

Moenie ons reaksie op die oopmaak van ‘n yskasdeur of die kraak van ‘n sjokolade papier verwar met vooruitdink nie.
Dit is bloot net kondisionering.

(Pavlov, ja. Hy was ‘n vark. Sê NEE vir enige eksperimente op diere!)

Dit is wel waar dat ons neurone so gekonnekteer is dat ons nie daardie vreemde menslike vermoë van vooruitbeplannng besit nie. Shame, dit moet baie swaar wees, om heeltyd te moet bekommer oor wat môre gaan gebeur!

Ek leef net van oomblik tot interessante oomblik, en in my drome herleef ek weer my beste herhinneringe.

Katjaag. Cupcakes.

Jippee!

Wednesday, July 14, 2010

Honde en relatiwiteit


Honde het ‘n natuurlike talent vir kwantumfisika.

Die idee van ‘n parallelle heelal of twee is iets waaraan Hugh Everett die eerste keer gedink het na ‘n gesprek met sy hond. Sy was een van daai fraai kollie honde soos Lassie.

Die hele dink-speletjie met Shrodinger se kat is ook oorspronklik deur ‘n hond uitgedink op ‘n reënerige dag.

Niks nuuts nie.

Ons vind dit glad nie moeilik om te verstaan dat daar verbuigings is in die tyd-ruimte kontinuum nie.
Kyk maar net na tyd. Julle het seker al agtergekom dat ons honde se konsep van tyd heeltemal verskil van mense s’n.

Let maar op na jou hond se gedrag as jy terugkom van iewers anders af na ‘n week, of na vyf minute.

Vir ons is tyd werklik relatief.

Tuesday, July 13, 2010

Avonture in Tibet


Iemand het my gevra om meer te sê oor meditasie.

Ek het geleer hoe om te mediteer toe ek in Tibet was (op ‘n sending, natuurlik. Dit was baie koud). My leermeester was ‘n regte monnik, ‘n inwoner van ‘n klooster hoog in die Himalaja gebergtes. Hy het die kuns van meditasie weer direk van die Jeti af geleer.

Dit is reg: die Jeti. Die regte, egte verskriklike sneeuman.
Natuurlik bestaan hy!
(Om die waarheid te sê, daar is ‘n hele paar van hulle.)

En ja, ek het hom ontmoet. Ons was soort van maats.

Jetis is groot. Reusagtig groot, en hulle het ‘n sagte spierwit pels. As hulle doodstil teen die sneeu staan, kan jy hulle glad nie sien nie. Ek het dit ook al probeer, maar my swart kolle is bietjie van ‘n probleem.

Ek sien dat die mense hier rond ook soort van mediteer - ek sien soms hoe hulle dit voor die televisie doen. Of dalk is hulle net gehipnotiseerd.

Dit is baie maklik om sommige mense (en hoenders) te hipnotiseer.

Monday, July 12, 2010

Miskien is ek nie 100% perfek nie, maar deksels amper ...


Iemand wat so stil-stil dié blog volg het vir my ‘n e-pos gestuur en gekla oor my spelling.
Basta!
Ek spel heeltemal goed genoeg.
Spelreëls is ‘n uitstekende voorbeeld van die soort onsinnige twak wat mense (lees: grootmense) gebruik om mekaar mee te intimideer.
As jy nie weet wanneer om een of twee konsonante, lang of ‘n kort letters (f of v, y of ei) te gebruik nie, dan is jy minder opgevoed (of opgevoet?) as ek.
Sowaar?
Intussen kan jy soveel twak praat as wat jy wil, maar spel dit net reg!
Bog. Twak en nonsens.
Mens het nie verkeersreëls nodig as jy skryf nie. Kry jy maar ‘n spelspietkop vir jou woordverwerker as jy lus het, en los my  spellery uit.
Ek het regte speurwerk om te doen !

Sunday, July 11, 2010

Viva Spanjaarde en Spanjoele!

As ‘n Spanjoel is ek natuurlik baie opgewonde oor die finale uitslag van die wêreldbeker sokker 2010. Nie dat die ander ooit ‘n kans gehad het nie!


Hoera vir die Spanjaarde!

Dit is natuurlik duidelik dat my voorvaders oorspronklik Spaans was. ‘n Mens kan dit steeds sien in die aristokratiese buig van my lang neus en die glansende swart krulhare op my ore. (Sommige mense skimp dat my verwaandheid dalk ook van Spaanse afkoms is, maar sulke giftigheid kan mens seker verwag as jy suksesvol en aantreklik is.)

My oer-oer-oer-grootmoeder was Villaetta, Koningin Isabella se spierwit troetelspanjoel. Sy het (effens skandelik) deurmekaar geraak met die pikswart Noorse spioen Spanjoel Uhamm ibn Nasr van Aragon, en dit is waar my bloedlyn se kolle vandaan kom.

Nou ja, ek kan nog baie stories vertel van my voorsate se betrokkenheid in al die Europese intriges van daardie dae af, tot by die Spaanse Vryheidsoorlog waartydens een van my ooms deurmekaar geraak het met die Britse geheime diens en uiteindelik die Internasionale Speurdiens …

Hoekom ek so slim speurhond is

Mense wil altyd weet hoekom ek so slim is.

Daar is niks ongewoon aan my resep vir sukses nie: dit is ‘n kombinasie van natuurlike potensiaal, en goeie opleiding.

En oeffening, natuurlik. Selfdisipline.

Net soos ander beroemde speurders in die literatuur (dink maar aan Sherlock Holmes, Hercule Poirot en Maigret) het ek ‘n geordende brein. Ek glo in metodiese deeglikheid.

En dan moet jy nie bang wees om nou en dan ‘n kans te waag nie!

Ek gebruik my kennis van menslike psigologie, chaos teorie en natuurlik ook aardrykskunde om sake op te los. Dit help om ‘n paar tale te kan praat, en ‘n werkende kennis te hê van spioenasie netwerke en boewe se gewoontes.

Dan is dit bloot net ‘n kwessie van wakker wees.

Stokperdjies? Ja.

Ek verkies stokperdjies wat my vaardighede vlymskerp hou. Soos skaakspeel en om my judo en karate op astrante katte te oeffen.

Ek spandeer ook baie tyd op die Internet, waar ek navorsing doen oor allerhande interessante goed.

Saturday, July 10, 2010

Uit die mond van die hond

Hoekom ek meer van kinders hou as van grootmense.

Mense kom in twee basiese groottes: kinders en grootmense. Ek het gehoor dat hulle eintlik een en dieselfde ding is: dat kinders in grootmense verander as jy lank genoeg wag. Maar honde leef gewoonlik nie so lank nie.

Dus, vir alle praktiese doeleindes en sover dit my betref, is kinders en grootmense twee verskillende soort diere.

Daar is heelwat ander feite wat my argument ondersteun:

Kinders is korter. Dit maak dit baie meer gemaklik vir my, want dit is maklik om hulle koekies af te vat.

Kinders raas meer.

Kinders beweeg anders. Hulle beweeg byvoorbeeld selde in ‘n reguit lyn van punt A tot punt B. Hulle mag dalk op pad wees na punt B, maar as hulle dalk ‘n molshoop of ‘n leë koeldrankblik langs die pad kry, mag hulle dalk heeltemal afdwaal. Hulle swaai hulle arms en tel hulle knieknoppe hoog op as hulle spring. Oor die algemeen beweeg kinders met heelwat meer entoesiasme as grootmense.

Hulle ruik anders. Grootmense ruik na seep en verkeersknope. Kinders ruik na grond en taai lekkergoed.

Altwee soorte maak reëls, maar verskillende soorte reëls. Grootmense verbied nodige dinge soos nat honde op rusbanke en roomys eet voor ete. En al hierdie onredelike reëls geld vir altyd. Kinders lol soms met mekaar oor wie se beurt dit is om weg te kruip en waar die bal uit is as ons straatsokker speel. Maar hierdie reëls hou selde meer as ‘n paar minute lank en ek is nie seker of dit wel as reëls gekategoriseer kan word nie.

Baie minder geniepsig.

In my opinie is kinders dus heeltemal ‘n aparte spesie.

Party kinders kan selfs plaatkoekies bak en toebroodjies maak.

Grootmense is waarskynlik heeltemal oorbodig.

Friday, July 9, 2010

Dit is nie dat ek katte haat nie.

Ek hou bloot net nie van hulle nie. En dit maak nie van my ‘n sleg hond nie?

Katte is anders. Sommige van hulle is niks anders as boosaardig nie. Hulle vang klein voëltjies en babamuise, en dit is nie ‘n fair fight nie.

Katte lê op mense se stoele sonder om op te skuif as hulle wil kom sit. Katte vryf hulle hare op alles af en hulle is onhigiënies (al daai gelekkery !)

Ek verkies om gebad te word.

Boonop is katte ekskulsief. Hulle het dit begin: hulle dink hulle is beter as ander huisdiere. Hoogmoedigheid, selftevredenheid, gebrek aan objektiewiteit. Dit is maar net ‘n paar van die filosofiese sondes waaraan katte tradisioneel skuldig is. Daar vind geen selfondersoek plaas nie, daar is geen berou oor hul lewenswyse nie.

Katte toon ‘n totale gebrek aan insig, ‘n gebrek aan empatie vir ander spesies.

Mense vind dit dalk moeilik om te verstaan. Julle is tog immers almal eenders.

Maar as ek ‘n kat sien, dan jaag ek hom.

KAT!!!!

Thursday, July 8, 2010

Mense vra my dikwels waaraan ek dink as ek so rustig sit.
Dit is maklik om te antwoord. Meestal slaap ek, met oop oë. Soms mediteer ek. Dit het ek tot ‘n fyn kuns ontwikkel, maar meer daaroor op ‘n ander dag.
Daar is wel tye wanneer ek diep en ernstig dink.
En die ding waaroor ek die meeste dink, is oor dink self.
As julle dit nie verstaan nie, gaan lees wat Aristotel daaroor gesê het.
Ek kan daardie groot man se gedagtes selfs ‘n stappie verder vat in die denkrigting dat gedagtes eintlik die substans is wat die heelal aanmekaar hou. Dink oor dink is baie soos die planete wat die heeltyd om en om draai. Of soos ‘n hond wat sy eie stert jaag.
Dit gee jou sommer ook die antwoord oor hoekom sommige honde hul eie sterte jaag: hulle het nog nie mooi geleer om te dink oor dink nie en dus is hulle baie gefrustreerd. Dit veroorsaak ‘n opeenhoping van energie wat dan manifesteer in allerhande gedragsafwykings. Jack Russels lei veral daaraan.
Dit is ook seker een van die redes dat mense in die verlede (dit is deesdae mos onwettig in ons land) honde se sterte afgekap het. Dit het begin met Aristotel wat sy Jack Russel se stert afgekap het in ‘n poging om die brak te leer dink. Oor dink.
Dit het nie veel gehelp nie.
Gaan dink bietjie daaroor!