Thursday, September 16, 2010

Kennisgewing: Willem is op reis.



Willem is weg vir 'n hele paar weke.  Sy voorstedelike bestaan van stoepsit, katkyk en internet kommunikasie is voorlopig eers verlore.

Maar hy sal weldra weer sy verskyning maak.

Hou dus hierdie spasie dop so vanaf die tweede week in Oktober.
Hy sal sekerlik ‘n bekvol te vertelle hê sodra hy terugkom.

Sewe wenke vir taspak.


1.     Dit is altyd beter om so lig as moontlik te reis.
2.     Dink mooi wat absoluut noodsaaklik is vir jou innerlike welstand (vir my is dit Beertjie. Lag maar. Ek gaan nêrens sonder hom nie).
3.     Die goed wat jy nodig het om te oorleef in ‘n spesifieke plek, is gewoonlik daar beskikbaar. Koue plekke se winkels is vol truie. Sonroom kry mens in elke kafee in die trope. Stressvolle plekke (soos New York) het ‘n kroeg op elke hoek.
4.     Tandeborsels en seep kry jy op straatmarkte selfs in die mees afgeleë dorpies. Onthou ook, mens gaan nie op reis om te bad nie.
5.     Mens gaan ook nie op reis om ‘n boek te lees nie.
6.     ‘n Notaboek of 'n kamera is ‘n ander saak, want reis laat mens dink en gedagtes hol soms weg as jy hulle nie gou vaspen nie. Maar selfs notaboeke kan jy daar (waar daar ook al mag wees) koop.
7.     Jy mag dalk ook iets anders daar kry wat jy wil terugbring. Dus is SPASIE die heel belangrikste item in elke vars gepakte reistas.


    Dus het ek ‘n rugsak met ‘n Beertjie in.
    Dis al.
    Bon voyage!

    Wednesday, September 15, 2010

    Om te bly of te gly.


    Ons stoep word al hoe lekkerder vir my. Dit is ‘n slegte teken.

    Die middeljare dreig dikwels as ‘n sindroom gekenmerk deur selftevredenheid. Maar wie kan nou nie selfvoldaan voel as jy op ‘n sagte kussing lê met die warm son wat op jou boep bak nie?

    Lekker.

    Vanuit hierdie oogpunt is vreemde horisonne skielik dreigend. Dink net wat kan als verkeerd loop op pad na iewers anders! Dink aan die lang toue by die lughawe. Bloedklonte en vreemde virusse wat jou kan beetpak op ‘n transatlantiese vlug ...
    Sakkerollers.
    Reisigers diaree.

    Die stoep raak al hoe lekkerder.
    Maar kan ek die wêreld nou reeds aan sy lot oorlaat?

    Hopla!

    Tuesday, September 14, 2010

    Sewe salwe vir ‘n seer hart



    1. Gee jou heeltemal oor aan ellende. Maar eers nadat jy jou skoenveters uitgereig en weggegooi het, alle skerp voorwerpe verwyder het en, indien jy nie op die grondvloer bly nie, die venster toegespyker het met ‘n baie sterk plank. Maak nou die deur toe, sorg dat niemand naby is nie en laat waai. Dit is die einde van die wêreld soos wat dit moes wees.
    As jy nou toetaal en al verpletterd is, probeer nou die toestand van verliefdheid van voor  af te ervaar:
    2. Druk ‘n GROOT lepel stroop in jou keelgat af. Soet, nê? Soos die liefde, nê ? En na ‘n rukke smelt die soet smaak weg en alles staan nog. Herhaal as nodig. As jy begin naar voel, des te beter.
    3. Dra ‘n rooskleurige bril vir ‘n paar dae. Lyk die wêreld regtig beter ? As jy na blou en geel begin verlang, trap die bril stukkend en geniet weer die volle spektrum van kleure.
    Raak reaktief:
    4. As iemand jou probeer troos met die versekering dat daar nog baie visse in die see is, trek jou skoen uit en gooi hom/haar HARD tussen die oë.
    Raak rasioneel:
    5. Probeer uitwerk hoeveel mense op aarde vandag presies net so mistroostig voel soos jy. Daar is meer as 8 biljoen mense op aarde. Sê maar elke mens raak gemiddeld vier keer in hulle lewens ernstig verlief (die variasie is natuurlik groot). As elke mens gemiddeld 50 jaar lank leef (gaan kyk na die syfers op die WHO se webwerf, as jy wil, en jy kan dit selfs meer akkuraat vir jou eie streek uitwerk), en elke episode van verliefdheid duur minstens 4 weke, en elkeen van hierdie episodes eindig in sak en as (want vir jou bestaan daar tans geen gelukkige eindes nie) beteken dit dat daar ‘n hele spul mense in jou onmiddelike omgewing moet wees wie se harte ook vandag onder hulle voetsole vasgespyker is, en elke tree pyn. Ag shame, man!
    6. Kry medelye vir die res van die wêreld. Eers sal dit jou harder laat huil, maar dalk begin jy op ‘n stadium sien dat jy deel is van ‘n groter geheel van gedeelde smart. 
    7. Kry perspektief. Jy deel nou ‘n ervaringsveld met die belangrikste digters, filosowe en despote in die geskiedenis.
    Jy het nou die plek van liefde, verliefdheid en ‘n gebroke hart in ons heelal ontdek. Maak jou reg vir die groot dade waartoe ‘n gebroke hart kan lei. 

    Monday, September 13, 2010

    Verliefdheid/verliefgeid


    Dit is ‘n siekte. Definitief. ‘n Fisiologiese toestand wat die hele fenotipe verander. Jou genetiese kode programmer jou om ‘n denkende, rasionele bestaan te voer.
    ‘n Wyfie kom verby, en …

    Musiek klink anders. Wat voorheen mooi note was kry nou ‘n mistieke betekenis wat direk op jou hartsnare speel. Trane kan uit jou oë losgesing word, sonder te veel moeite.

    Sonsondergang. Jy is nie meer jou eie mens nie. Die kleure op die horison behoort aan jou en dit voel of jy, in jou opgeblaasde toestand van beskonke verstrengeling met die idee van iemand anders, persoonlik verantwoordelik is vir die glorie waarmee die son vir die aarde nagsê.

    Daai ander, spesifieke persoon laat die hele ellende van die aarde en die bedremmelde toestand van al sy weses skielik sin maak.

    Hoe kon jy ooit getwyfel het? Natuurlik is daar ‘n antwoord op alles!

    Jy is so bedonnerd van verliefdgeid dat jy nie eens agterkom dat jy steeds nie kan sê wat dit nou eintlik is nie.

    En as die meisiekind jou dan los …

    (Belofte: lees môre verder vir sewe medisynes vir ‘n gebroke hart)


    Sunday, September 12, 2010

    Honde kry gelukkig nie eksistensiële krisisse nie.



    Ek besef ek leef in my eie wêreld. Ek besef ek is outyds.
    Ek is nie hip nie. Ek is nie deel van die reality TV en lag-vir-ligaamlike-funksies kultuur nie (alhoewel ‘n paar van myne nogal koddig is).
    Ek het vaste opinies oor dinge en ek blameer die Amerikaners vir die meeste goed waarvan ek nie hou nie.

    Byvoorbeeld: wat help dit om rond te reis en dan in ‘n hotel te bly wat net soos jou huis lyk?
    Hoekom moet mens na TV programme/Youtube videos kyk wat die hoogste ratings het? Hulle het die hoogste ratings omdat almal kyk waarna almal kyk waarna almal kyk …

    Hoekom word die gemidelde mens as standaard voorgehou? Dit is so gemiddeld.

    Ek weet dit is moeilik omdat daar meer as 8 biljoen van julle is, maar  ‘n mens (soos honde, ons weet dit) is nie ‘n wiskunde som nie. 

    Friday, September 10, 2010

    Sewe gebruike vir jelliebeertjies


    1. Steek ‘n half-gesuigde een (‘n gele, verkieslik) in iemand se sakdoek weg.
    2. Vir ‘n spesiale treat op ‘n warm dag: gooi ‘n handvol in rooi of groen koeldrank saam met ys
    3. Stop sewentien in elke kies en bel dan iemand wat jou irriteer.
    4. Plak ‘n paar onder jou lessenaar vir suiker-noodgevalle.
    5. Speel dambord met hulle. Jy moet genoeg hê om twee spanne van ‘n kleur uit te soek. Eet dan al jou opponent s’n op so vinnig as wat jy oor hulle spring. Steel ook ‘n paar as hy/sy wegkyk en wen vinniger.
    6. Plak iets vas met een : ‘n Koevert wat nie taai genoeg is nie, ‘n haarstyl wat nie wil hou nie, jou baas se rekenaar-muis …
    Laastens, onthou:
         7. Jelliebeertjies is uitstekende oorproppe as jy saam met iemand slaap wat snork.

    Thursday, September 9, 2010

    Die reisende hond



    Reis het baie verander. Maar reis het ook min verander. Dit hang net af hoe jy daarna kyk.
    Op die oog af is daar ‘n groot verskil tussen moderne lugvaart en skeepsvaart in, sê maar, die 18de eeu.
    Op die oog af is daar ‘n groot verskil tussen ‘n sagsit-4x4 en ‘n stoet kamele wat deur die woestyn trek.
    Mens sou dink dat die oggendverkeer kantoor toe heelwat minder uitdaging bied as die donkiekar waarmee jou oupa gery het.
    Hmpf.
    Dink weer, terwyl jy wonder of jou tandepastabuisie aan die nuwe handbagasie regulasies voldoen.
    Dink weer as jy na ‘n elektroniese deuntjie moet luister terwyl een operateur jou na ‘n ander deurskakel om daardie 4x4 se versekering uit te sorteer.

    En ‘n donkie is ten minste goeie geselskap!

    Wednesday, September 8, 2010

    Sewe dinge wat jou fiks hou



    1. Soek: of dit nou ‘n been in ‘n tuin is, of ‘n skêr in ‘n kombuis: jy verbrand baie meer kalorië as jy nie kan onthou waar jy laas iets gebêre het nie.
    2. Drome, veral nagmerries: hou jou hond dop as hy slaap en droom ‘n reuse eekhoring jaag hom. Dit is ‘n fantastiese work-out.
    3. Toffies: die spierkrag wat dit vat om ‘n taai toffie te kou kanseleer dadelik die effek van die suikerinname
    4. Blaf: sommer vir die pret. Mense doen dieselfde ding as hulle in die stort sing, dink ek. Maar blaf werk goed, probeer gerus.
    5. Dans. Ek kan nie verstaan dat mense draf as hulle kan dans nie.
    6. Drukkies. Dit laat mens se hart vinniger klop, en die kalorië spat.
    7. Katte jaag. Natuurlik.


    Tuesday, September 7, 2010

    Canis domesticus, Homo sapiens



    Wat maak ‘n hond ‘n hond?
    Optimisme, lewe in die oomblik, en ‘n wantroue van katte.
    Wat maak ‘n mens ‘n mens?
    Baie meer ingewikkelde vraag.
    Soos wat ek julle deurkyk kan ek ‘n paar tipiese karaktertrekke van jul spesie identifiseer:
    Julle glo sterk in liefde en verliefdheid, maar elke nou en dan maak julle ‘n moerse oorlog.
    Julle funksioneer as ‘n groep en nie as individue nie, en moet mense aanstel om seker te maak die ander gedra hulle, en nog ander mense as ‘n regstelsel indien dit nie gebeur nie.
    Diere het dit nie nodig nie. Ons stem almal saam oor wat reg en verkeerd is. Ons ma’s het ons geleer.
    Julle kan sien tot in die toekoms en meestal is dit vir julle ‘n bron van groot angs.
    Julle is in staat tot kuns. Dit is ‘n enigma. Ek verstaan kuns nie mooi nie maar daar is definitief iets daaraan. Ek sou dit definieer as ‘n vermoë wat party van julle het om iets te doen wat trane in die ander se oë kan bring. Op ‘n mooi manier.
    Werklik vreemd ...
    Julle jeug glo altyd alles is anders in die tyd waarin hulle nou is. Maar selfs dit is iets wat herhaal in die geskiedenis.

    Julle maak my skoon moeg.
    Tyd vir ‘n vinnige slapie …

    Monday, September 6, 2010

    Die sewe gebooie van hond-wees



    Die band tussen hond en mens is een van daardie onwrikbare wette van die natuur.
    Soos swaartekrag, en dat vroumense se knieë hul ouderdom weggee maak nie saak hoeveel hulle gym en botoks nie.

    Selfs al kap julle ons sterte af, skop ons en verwaarloos die oorgrote meerderheid van ons emosioneel of fisies (gaan kuier by die SPCA as jy my nie wil glo nie), bly ons die mensdom se beste vriende.

    Want dit is ‘n wet van ons natuur. Reël nommer een in die gebooie boek van die hond.
    Daar is sewe:
    1. Wees getrou aan jou mens
    2. Haat katte
    3. Waai jou stert as jy bly is
    4. Beskerm jou gebied
    5. Slaap so veel as moontlik
    6. Eet jy kos so vinnig as wat jy kan
    7. Wees dankbaar vir alles wat goed is


    Ek erken dat daar variasies en verskillende interpretasies van hierdie stel gebooie is. Ek is nie ‘n teoloog nie.

    Maar dit is nie so slegte stel reëls nie, is dit?

    Die ding met gebooie is dat dit maklik is om te gehoorsaam as jy na aan jou eie natuur leef.

    Sodra jy ontaard in ‘n ander spesie, raak dit al hoe moeiliker. Dit is dalk hoekom mense so sukkel met hulle s’n.



    Natuurlik hond.

    Ek is alweer die naweek gebad.

    Kyk, ek waardeer die aandag en ek is bly ek word so goed versorg. Maar waar kry mense hierdie snaakse idee dat chemiese reuke van sintetiese blomme beter is as my eie, persoonlike brak aroma?

    Gelukkig weet ek waar ‘n rot dood is laasweek.
    Ek is reg vir rol ...

    Thursday, September 2, 2010

    Aftrede of Uittrede?



    Iemand vra my gister hoekom ek op so ‘n jong ouderdom afgetree het. Die van julle wat my storie in ‘Willem op reis’ gelees het, sal weet dat dit aanvanklik nie so bedoel was nie – ek het heel toevallig in die ietwat vernederende posisie beland om as ‘n straatbrak aangesien te word en toe gryp die hondevanger my. (Daardie ou behoort baie trots op homself te voel, want hy het reggekry wat internasionale boewe soos Sybrand Swiffervalk steeds elke aand in hul koue tronkselle lê en droom).
    Die res is geskiedenis.
    Miskien moet ek myself eerder as ‘uitgetree’ beskou. Vryskut, tans.
    Want nou en dan kry hulle my nodig en dan help ek maar.
    Maar ek is nie een wat deur die range van die staatsdiensleer gaan kruip totdat hulle my ‘n lekker mandjie op die Internasionale Speurdiens se stoep gee nie.
    O nee meneer.
    Waarom een soort lewe kies as jy albei kan behartig?
    Wag, ek hoor iemand in ons spens …
    Koekieblik?
    Hopla!

    Wednesday, September 1, 2010

    Ouderdom en wysheid



    Honde verjaar, in effek vir ons, net eenkeer in elke sewe jaar. Daarom moet dit behoorlik gevier word.
    ‘n Mens (en ook ‘n hond, natuurlik) moet nooit ‘n geleentheid laat verby gaan om fees te vier nie. Jy moet heeltyd mooi dink wat het nou gebeur wat jy kan vier, anders is dit oor voordat jy dit agterkom.

    Sewe dinge wat ek die afgelope week gevier het:
    1. My verjaarsdag.
    2. Die rotdier in ons tuin is verlief en reken hy is verloof. Swak keuse, maar nou ja, ons vier dit.
    3. My oom Broef-Broef het nog nie die week iets vreesliks aangevang nie. Ek vier dit.
    4. My huismens het nou die aand ‘n besondere suksesvolle spaghetti bolognaise aanmekaargesit. ‘n Viering op sy eie.
    5. Die nuwe anti-vlooi program wat my veearts my op gesit het, werk soos ‘n bom. Ek kan nou gesertifiseer word as totaal en al vlooi-loos. Fantasties!
    6. Die meeste bome in ons straat het al nuwe blare
    7. Die kat op die hoek het ‘n halsband met ‘n klokkie present gekry. Wat ‘n looser! Ek vier dit sommer ook.

    Die lys gaan aan en aan.
    Sien jy nou?
    Hopla!