Friday, December 30, 2011

Oor Chihuahuas en nuwejaar

Koebaai ou jaar! Jy is omtrent gedaan. Ek en die kat gaan jou ordentlik die pad wys - vanaand op die dak!
Kyk, dit is een van my baie rituele wat ek nie mis nie. Vandat ek hier in die suburbs ingetrek het, vier ek en my aardsvyand (die bure se kat) die jaarwisseling so saam-saam op die dak van hulle motorhuis. Dan sit ons ons verskille eenkant (en glo my, dit is ‘n sware vraggie van onderonsies om opsy te stoot) en hou saam partytjie.
Verlede jaar het ek hom leer blaf. Net ‘n paar goeie slukke whiskey, en toe blaf daai kat.
Soos ‘n wafferse Chihuahua!
Het julle geweet Chihuahua is ‘n regte plek, in Mexico? Daar is ‘n woestyn en ‘n dorp en ‘n klomp mense wat almal Chihuahuas aanhou. Die rede hoekom hulle honde so lyk word verklaar deur die geografie van die streek: droog, warm en net kaktusse wat oral groei. Die gevolg is dat almal leef van tequila*: ontbyt, middagete en aandete. Honde en katte ook. Die res laat ek aan julle verbeelding oor, maar nou weet julle waar kom Chihuahuas vandaan.
Dit is nog betwisbaar of die ras aan die hond- of aan die katfamilie behoort. Na laasjaar se ervarings neig ek na die kat-teorie se kant toe.

Wie weet wat ek vanaand gaan regkry?

My eksperiment duur voort  - tot volgende jaar!

*Tequila is ook 'n dorp in Mexico. Hopla!

Tuesday, December 13, 2011

Sewe hemelse talente



Party mense is slim, ander is mooi. Dit alles help natuurlik baie om suksesvol te wees, maar dan is sukses, net soos geluk, ‘n glibberige ding.
Dit kom daarop neer dat mens eers presies moet weet wat jy as suksesvol en gelukkig beskou, want anders word jy dit dalk sonder dat jy dit agterkom.

Hier is ‘n lysie van talente wat oor die algemeen onderskat word:

  1. Die vermoë om mooi dinge raak te sien. Klein gevalle van skoonheid gaan maklik verlore in ‘n besige landskap.
  2. Genot in lekker dinge, soos volroommelk en cupcakes.
  3. Lag. Dit was die siel kraakskoon, elke keer.
  4. Somme maak. Allerhande somme. As jy kan optel en aftrek, maak goed skielik sin.
  5. Gemaklik wees. Kyk nou maar vir my as ek lê en slaap (snork of te nie): doodgemaklik.
  6. Vriende maak op ongewone plekke. In Woolworths voor die kaasrak, in ‘n naelkou onderhandelingsvergadering, of met die voëltjies in die tuin.
  7. Bly wees oor klein oorwinnings. Soos om van ‘n nare klitsgras ontslae te raak, of om te deel in die vreugde van iemand anders.


Laastens: om jou seëninge te tel (verwys terug na talent nommer 4). 
Kersfees is ‘n goeie tyd daarvoor!

Sunday, November 6, 2011

7 Soorte onsekerheid



  
Akademiese mense soos onderwysers en professors probeer altyd kennis sorteer in hokkies, soort by soort, klaarblyklik met die doel om dit makliker te maak vir studente om te onthou.
Op die ou einde moet die studente dan die kategorië ook leer, saam met die feite, en alles boonop nog reg kan sorteer ook.
En so vermenigvuldig die dinge wat mens moet weet om suksesvol te wees.

Hier is my  kategorieë van dinge waaroor ek nog erg onseker is:

  1. Die eksistensie van katte – die slimste filosowe kon nog nie verklaar hoekom mense katte in hul huise toelaat nie
  2. Die moraliteit van cupcakes: ‘n hele volume oor kennis van goed en kwaad kan gerus hieraan gewei word. Dit maak jou vet, maar vet mense is gelukkiger. Dit is sleg vir cholesterol en suiker en bloeddruk, maar drank en sigarette is erger. Dit is ‘n oorgawe aan sinlike genot, maar sonder sulke periodieke oorgawes kry depressie die oorhand … en so meer.
  3. Die prioritisering van die materiële: hoekom mense eerder praat oor geld as oor … liefde en so aan. (Het Europa haar Griekeland lief, of gaan die hele bohaai net oor finansiële verleentheid?)
  4. Hoekom meeste mense die basiese aktiwiteit van dink so maklik oor die hoof sien.
  5. Hoekom mense kla as brakkies gaatjies in hul tuine grou. Hoekom?
  6. Hoekom vakke soos logika en filosofie nie die eerste is om vir kinders te leer in graad 1 nie, so saam met die kleiwerk en krale ryg nie (logika en filosofie sal heelwat help met vaardigheid in laasgenoemde twee aktiwiteite).
  7. Hoekom jy dom gebore word en slimmer sterf. Dit moes andersom gewees het.


En laastens, hoekom ‘n lollery oor dinge soos die my so wonderbaarlik vaak kan maak 

Thursday, October 27, 2011

Chaos teorie les 4 / hoekom ek van cupcakes hou


Probeer net een dag klaarkom met net dit wat jy vir jouself kan doen, en sien hoe kompleks die moderne samelewing is.

Omdat die wêreld so verweefd is deesdae, kan jy omtrent niks meer doen wat onskuldig is nie. My hondekos pil bevat omtrent sewentig verskillende bestandele, elkeen met sy eie spoor van ekologiese skade en uitbuiting van armes. Ontbossing, uitbuiting, verkwisting, besoedeling …
My hondekos blokkie het bestandele wat ingevoer word uit China en Brasil, en sy koolstof voetspoor is groter as my aptyd.
En hoekom word ek, en miljoene honde soos ek, gevoer met sulde blokkies?
Om vir my ‘n gebalanseerde dieet te gee in ‘n kits.
Mense doen dit met hulleself ook, kyk maar in enige koskas.
Om nie van medisynekaste te praat nie! (Vra die renosters).

Kits werk nie.
Gaan maal jou eie koffie, kweek groente en bak cupcakes. Dink oor die spoor wat elke ding loop.


Sewe maniere om jou lewe eenvoudiger te hou:

  1. Hou op wonder oor hoekom die Japanese so kort is
  2. Draai altyd minstens drie keer in die rondte op jou kussing voor jy gaan slaap. Daar is goeie rede daarvoor. Vra jou hond – hy weet wat hy doen.
  3. Eet minstens een cupcake elke dag. Dit sal die begeerte stil om by meer ernstige sondes betrokke te raak.
  4. Aanvaar onsekerheid. Dit is ook onseker of dinge wel sal skeefloop.
  5. Bly op datum met alles en almal om jou. Get connected. Dit sal jou so besig hou jy sal nie kans kry vir kattekwaad nie.
  6. Vermy katte. Hulle is gekompliseerd.
  7. Raak onstlae van mense wat jou nie verstaan nie.




Saturday, October 1, 2011

Chaos teorie les 3



V: Jy maak dikwels die stelling dat digters en filosowe belangriker is as politici. Hoekom sê jy so?

A: Digters en filosowe interpreteer die samelewing waarin hulle leef. Hulle probeer sin maak daarvan. Politici probeer dit beheer en manupileer, jammerlik gewoonlik altyd tot hul eie voordeel. Die ouens se motiewe is dus heeltemal verskillend en soos julle weet, motivering is die gewrig waarop die waarde draai.

V: Hoekom, Willem, kyk jy rugby?
A: Want daar is gewoonlik biltong in ons huis as dit rugby is. Wat het dit met chaos teorie te doen?

V: Hoekom is jy, as ‘n brak, spesifiek geïnteresseerd in chaos teorie?
A: Ek probeer verstaan wat die rol van die kat in die voorstedelike milieu is. Ek reken chaos teorie is ‘n goeie begin.

V: Het jy al enige bydrae gemaak tot hierdie veld?
A: Wel. Ek maak verseker bydrae tot chaos, in ons tuin byvoorbeeld, en as ek op ‘n stappie gaan en daar is honde wat vatbaar is vir my woordeskat. Ja. Teorie is een van my grootste talente, alhoewel ek eintlik ‘n brak van aksie is.

V: Is dit nie bietjie van ‘n onwykende antwoord nie?
A: Nee.

V: Wat daarvan as ek reken dit is wel ontwykend?
A: Dan beteken dit jy het nog nie ‘n goeie greep op chaos teorie nie. Wag vir les 4. Hopla!

Wednesday, September 28, 2011

Chaos teorie les 2



Galileo het gesê (blykbaar, ek was nie by nie) dat die heelal ‘n ope boek is vir almal wat wil lees.
Maar hy het gewaarsku dat jy eers die taal van die heelal moet verstaan, en volgens hom was daardie taal wiskunde.
My somme was nog nooit so goed nie, so ek sukkel maar.
Beteken dit die geheimenisse van alles en nog wat is vir ewig vir my verlore?

Indien wel, hoe groot skade is dit?

Ek dink Galileo kon maklik praat. In sy tyd was dinge eenvoudiger.
Of was dit?
Die mensdom is soos ‘n spul stout katte wat heeltyd die ordelike string van gebeure omwoel tot ‘n hele koek van kompleksietyd.  Alles knoop en bondel, maar daar bly steeds ‘n draad in die storie, met ‘n begin en ‘n einde.
Jy moet net die geduld hê om die punt te soek, en dit dan tydsaam los te woel en weer op te wen in nuwe orde.

Dit was les 2 oor hoe om nie te skrik vir ‘n gemors nie.
Byt vas.

Friday, September 23, 2011

Chaos teorie: les een.



Die wêreld is ‘n ingewikkelde plek. Die akademiese ouens deel dit op in dissiplines soos wetenskap, geskiedenis en filosofie. Om die groot chaotiese geheel in kleiner dele op te breek, maak dit so effens meer verstaanbaar.
Maar dan is daar ook kuns en literatuur wat weer op ‘n ander manier die wêreld om ons probeer interpreteer.
My kop pyn om net daaraan te dink.
Intussen los dit die gewone ou, soos ek, om te wonder presies wat hulle alles in daardie saamgepersde hondekos blokkies sit wat blykbaar my pels sag maak en my snoet laat blink.
Vir wat moet ek dit glo?
Gee vir my eerder 'n regte outydse murgbeen!
Met alles wat so verpak en verwerk is in ons gewone voorstedelike bestaan word daar verwag dat ons dinge sommer net so aanvaar soos dit is.  Ons is verbind met selfone, Youtube en ons weet almal hoe om die Shuffle te dans (Wat? Kom by!)
Dit is alledaags. Google rangskik alle kennis in rangorde: ‘n groot universele brein wat al meer vir ons dink en besluit.
Ek is bly daaroor, want op my eie kan ek nie byhou nie.
My neus is nie meer my beste wapen nie. Maar ek weet nog steeds hoe om hom te gebruik, al is dit vir snuffel in cyberspace.

Dit is seker hoekom ek so goeie speurhond is …

Friday, August 26, 2011

Wanneer is mens te oud om te leer?

Mens moet nie veralgemenings maak nie. “Jy is nooit te oud om te leer nie”, byvoorbeeld. Natuurlik raak mens te oud. Met ouderdom kom daar hopelik wysheid, en daar is sommige dinge wat wyse mense nie wil leer nie.
Vir julle inligting, ‘n paar voorbeelde:
-       Blommerangskikking. ‘n Mors van tyd.
-       Watter vurk om eerste te gebruik as die tafel oorbedek is. As ‘n hond, amuseer dit my baie.
-       Romansk. Leer gerus ‘n nuwe taal, maar kies beter.
-       Politiek. Daar is niks nuuts by te leer die afgelope … dinosourusse het ook mekaar opgevreet. Enigeen wat meer het as die ander is in die … gaan lees Darwin. Skip Freud.
-       Watter wyn pas by watter kos. Ai! Kry ‘n lewe.
-       Ekonomie
-       Astrologie.
En sowaar, noudat ek na my eie lysie sit en staar, sien ek ‘n patroon raak hierin. Miskien leer ek tog nog iets, so op my oudag…

Wednesday, August 24, 2011

Sewe redes hoekom ek nie nou al my memoirs kan skryf nie.



1.     Die wollerige enetjie hier onder in die straat het nog nie ja gesê vir ‘n date met my nie.
2.     Ek het nog nie klaar gelag vir die laaste grappie wat die kat hier oorkant my vertel het nie.
3.     Ek soek nog steeds na die ultimate cupcake
4.     Ek groei nog (al is dit sywaarts)
5.     Ek verstaan meeste dinge steeds nie
6.     Mense luister in elk geval nie na my nie
7.     Ek is nog besig om …

Friday, July 29, 2011

Die ‘skrywer’ praat uit die kas.

Stories en mites is natuurlike maniere waarmee mense die wêreld verklaar – totdat die wetenskap alles kom opdonner het.
Nou moet ons feitlik korrek wees.
Hoekom skryf ‘n hond dan ‘n blog, en hoekom het hy ‘n Facebook-bladsy?
Want die wetenskap en sy werklikheid is nie vir my genoeg nie.
Iemand in my posissie is gekwalifiseer om so ‘n stelling te maak – gaan kyk gerus na my CV.
En ek is een van ‘n menigte – gaan lees die populêre tydskrifte en luister na ons politici, en sê dan vir my ek is ‘n uitsondering!
Willem het in sy vorige blog verduidelik van die verskil tussen ekstroverte en introverte, maar hy het niks gesê oor ‘n deel van die bevolking wat in ‘n ander soort van kategorie val nie. Kom ons noem hulle die ‘letro-verte’.
 Letro-verte kommunikeer in skrif. Hulle lees wyd en het sodoende toegang tot die koppe van duisende ander mense. Hulle leef ‘n paar keer: as Oliver Twist, Pippie Langkous, Bennie Griesel en Lisbeth Salander. Hulle het honde soos Jock of the Bushveld en Willem.
Party van hulle skryf. En skryf is ‘n manier om jou idees aanmekaar te sit op papier, want, helaas, die skedel self het eenvoudig nie plek vir alles nie.
Dit is heerlik om te skryf.
Dit is nog lekkerder as iemand nou eintlik lees wat jy skryf, selfs al hou hulle nie van wat jy sê of hoe jy dit stel nie.
Speurhond Willem is ‘n karakter met sy eie stem. In hierdie blog oefen ek daai stem en gee dit plek om te praat.
Die internet het ons groot, gemene eksterne brein geword: ‘n plek om saam te dink in skrif en beeld. Dit behoort nie net aan feite nie – dit behoort aan menslike kreatiwiteit.
Willem is deel daarvan.

Wednesday, July 27, 2011

Oor ekstroverte



Is dit nie vreemd nie – daar is so baie mense wat net buite hul eie koppe kan dink!
As jy een van hulle is, sal jy dalk glad nie weet waarvan ek praat nie, tensy jy dit gou met ‘n paar vriende gaan bespreek.
Hierdie groep individue word vrylik as ‘ekstroverte’ geklassifiseer. Daar is baie verskillende definisies van die konsep: mense wat baie praat, mense wat van partytjies hou, mense wat hul energie kry deur die gemeensaamheid met ander.
Gesellige mense.
As jy nie ‘n ekstrovert is nie, maak dit jou noodwendig ‘n introvert? Moet alles altyd die een of die ander wees?

Gelukkig hoef ek myself nie aan so ‘n oorvereenvoudige klassifikasie te steur nie.

Maar om terug te kom na my oorspronklike punt van hoe daar gedink word: party ouens kan net dink as hulle praat, hardop, en hulle besef eers wat hulle eie opinies is so in die proses van dit oorvertel aan iemand anders.
Ander ouens vorm weer opinies sommer so deur die bespreking van die punt, en die slimmes onder hulle meng darem hul menings met die van die gesprekmaats, en kom sodoende byna altyd beter daarvan af.
Ditsem.
Ander weer maak hulle minds op sommer so in die eensaamheid van hul eie koppe, en klou dan onwrikbaar vas aan daardie idees.
Eng.
Gelukkig het jou kop vensters: oë en ore en neusgate. Honde s’n werk beter.
As jy tog net die feite deur hierdie vensters laat inkom en dit deeglik vermeng in ‘n dinkproses, aangehelp deur gesonde gesprek met ‘n paar slim mense, dan is jou kans goed dat jy tot stewige gevolgtrekkings sal kom.
Wees net gereed om dit te verander, met elke nuwe briesie wat waai.
Jou kop is nie ‘n blik vir ingemaakte gedagtes nie.

Daar is altyd ‘n ‘sell by...’ en ‘use by…’ datum op alles.

Nê.

Tuesday, July 12, 2011

Om te bly of te gly



Elke keer as ek terugkom van een van my reise en ek plak myself (uiteindelik!) neer op die swart stoel met die uitsig oor Stellenbosch se berge, dan wonder ek: wat op aarde het ek daar gemaak?
Uit die kombuis kom die geur van varsgemaakte, varsgemaalde koffie. Die kussing agter my rug is nét sag genoeg. Totaal stresloos.
Gister nog het ek paniekaanvalle gekry in ’n vliegtuig. Swaeltjies kruis die ewenaar jaarliks, maar nie 10km bo die grond teen ’n skeurende spoed gepak in ’n sardienblik waar H1N1 kotteljons in die lugversorger nie.
Twak en nonsens.
Om nie van die lughawens te praat nie.
Twee dae gelede het ek deur knoop-in-die-derm verkeer gevleg met toeters en sirenes en die ewige borborigmie van reuse-stede. Drie dae gelede het ek deur ‘n koringveld geloop waar rooi poppies die bloedspatsels onthou van vorige oorloë. Vier dae gelede het ek geluister na ‘n enkele chello wat speel in ‘n katedraal, bo-op Mont St Michel. Vyf dae gelede het ek ‘’n uitstedende pain au chocolat verorber terwyl ek gek geskeer het met my maters.
Ses dae gelede …. Sewe dae gelede….
Ja, dit is wel die moeite werd om hierdie herhinderinge in die tas te pak vir terugbring na die swart stoel toe, met die mooi uitsig en die lekker kussing.

Monday, June 20, 2011

‘Hoekom lyk my ore so?’ en ander vrae oor evolusie.


Oor verloop van tyd het omtrent 99% van alles wat ons deesdae as ‘spesies’ klassifiseer reeds hul moses teegekom.
Dit is natuurlik, dus, vir die natuur om dinge te probeer wat op die ou end nie uitwerk nie.
Renosters, byvoorbeeld, word nie algemeen beskou as iets wat ‘n spesifieke bydrae lewer tot jan-rap-en-sy-maat (kom ons noem hom maar JR+SM) se lewenskwaliteit nie. Behalwe nou vir ‘n paar vinnige rande – en as dit op is is dit op.
Ten spyte van baie van ons se onthutsing oor hierdie ligsinnigheid, blyk JR+SM egter om die mees florerende spesie op ons planeet te wees.
Sedert Marie Antoinette se dae (en sekerlik lank lank voor haar) was JR+SM besig om af te breek waar ander swaar laat bou het aan hul luukse koningkryke. JR+SM was kwaad omdat hulle nie eerste daar was nie. Sodra hul ‘n beurt kon kry, het hulle dieselfde beginsels van laat-leef-net-sodat-ek-beter-kan-leef gevolg met dieselfde verkwistende eindresultaat, om weer op hul beurt nekomgedraai te word deur ‘n nuwe geslag opkomende JR+SMaters net ‘n paar dekades later.
Iewers in die proses, sê Darwin, moet die kwaliteit van JR+SM verbeter weens oorlewing van die mees geskikste.
Maar dit is hier waar Darwin stotter en sy kop laat hang. Daar is geen oorlewing van die geskikste onder die voortstuwende populasies van JR+SMs nie, want hulle moor mekaar voortdurend en doeltreffend uit. Hulle is geneties onverwand, want hulle ontstaan telkens van nuuts af.
As die magte van evolusie geen slypkrag het om hierdie jan allemanne nie, wat is dan hul doel in die sisteem?
Op hierdie punt van my redenasie raak dinge duidelik (vir die wat dit kan volg – whiskey help).
Is JR+SM bloot slypstene: evolusionere gebeurtenisse wat kom en gaan om kragte uit te oefen op die ware goue drade van ontwikkeling?
Is hulle die tru-rat terug na die donker oertye, terwyl die room afskif en boontoe dryf?  

Sonder JR+SM is wanhoop sowaar ons voorland!

As jy weer iemand stomonnosel teëkom … wees bietjie meer simpatiek.

Sunday, June 12, 2011

‘n Rooskleurige bril



Daar is maar net twee maniere om na die wêreld te kyk: as ‘n plek wat stadig ontbind in die smeltpot van euwel, totdat die dag van vergelding en verrekening kom om die mensdom te veroordeel en te werp in die nog duistere hel wat ons waarskynlik verdien.*
Of
‘n Organisme wat organies groei volgens ‘n stel geordende reëls wat doelmatig die oorbodige uitsif en nuwe dinge tot stand bring. Mense noem haar Gaia, en sy is ‘n lieflike dame.

Dit is twee lang sinne om die ewige stryd tussen goed en kwaad te beskryf. Inidividue kies selde bewustelik kant (mens kry natuurlik uitsonderings soos Moeder Theresa en … daai een leef nog so dit is beter om stil te bly) maar mens kan wel besluit deur watter bril jy na dinge wil kyk.

Die media help nie veel nie. Selfs Disney flieks is soms ‘n verheerliking van die aaklige. Daarom, vanoggend, sewe dinge om jou wêreld weer pienk te laat lyk:

  1. Lees enigiets iets wat geskryf is deur Alexander McCall Smith. Lees ‘Whole Earth Discipline’ deur my gunsteling denker, Steward Brand. Hy het hoop.
  2. Kweek jou eie groente.
  3. Breek jou televisiestel en ignoreer koerante. Stel eerder bookmarks op vir webblaaie wat jy self uitsoek en bly so op hoogte van sake.
  4. Maak speletjies van die belaglike koerant skreeu-plakkate op die telefoonpale soggens deur jou eie berigte uit te dink wat daarby kan pas. Probeer dit net.
  5. Sien al die liefde in die wêreld raak. Dit is goed gekamoefleer, maar onmisbaar vir die geoeffende oog.
  6. Hou diere dop. In ons buurt raak die voëltjies al hoe meer soos die bome begin groei. Die kat oorkant die straat is ook heel amusant (belaglike skepsel!).
  7. Raak ontslae van die uitputters in jou lewe en maak maats met mense met energie.


Bonus raad: eet soveel cupcakes as wat jy kan.

------
* Politiek maak dit maklik om in hierdie slaggat te verval.

Sunday, June 5, 2011

Danksy die VSA 2 …



My oom Broef-Broef is steeds in New York. Ek dink hy het nou ondergronds gegaan, seker om weg te kom van Paris Hilton se handsakhond en die bouncers wat sy huur om haar ex-boyfriends terug te kry.
Die verhouding met die handsakhond was ‘n voorspelbare kat-astrofe.
Werklik, ek is nie seker hoe hierdie sier-hondjies geteel word nie, maar die lyne van etiese genetika word sowaar en sekerlik ‘n hele paar keer oorskry.
Waar anders kom daardie spits oortjies vandaan? En die kloue wat skielik uit voorheen fluweel-sagte pootjies kan skiet?

Ek dink hierdie keer het Broef-Broef sy moses teegekom.

Hy het mos die handsak bykomstigheidjie (met die heel gepaste naam van Chloë) ontmoet toe Paris haar per ongeluk op ‘n kroegstoeltjie laat staan het, handsak en al. Broef-Broef het teen daardie tyd seker al ‘n paar whiskies agter die blad gehad, en, soos hulle daar oorkant sê, “The rest is history!”

Oom Broef-Broef was nog altyd ‘n sucker vir ‘n mooi meisie met ‘n probleem. En glo my, Chloë IS ‘n probleem!

Ek is werklik bekommerd oor hom. Wat ek weet van die onderwêreld in daardie groot stad, en wat ek weet van my oom Broef-Broef, gee my goeie rede om snags wakker te lê.

Of dalk het ek net te veel cupcakes geëet gisteraand …

Thursday, June 2, 2011

Danksy die VSA ...


Dit is nie vir my moeilik om ‘n lys te maak van die dinge waarvoor ek die Amerikaners blameer nie.

Kyk net nuus, enige aand.

Nee, die uitdaging kom om mooi dinge van hulle te sê, wat ek soms moet doen danksy die vriende wat ek daar het. (Ek ken darem ‘n paar nice en interessante Amerikaners, al ek is nie dik van die pêlle nie).
Maar ek hoef nie te veel oor hulle hier te sê nie, want hulle verstaan in elk geval – genadiglik – nie Afrikaans nie.

MAAR: as dit nie vir die Amerikaners was nie, was tegnologie nie so gebruikersvriendelik nie en gewone ouens soos ek sou nie met gemak kon Facebook en blog as dit nie maklik genoeg was vir die Amerikaners om dit ook te kon doen nie.

Ek dink ek sal nou maar vir eers hier ophou …

Wednesday, May 25, 2011

Die honderdste bobbejaan


Veertig jaar gelede al het Lyell Watson ‘n populêre mite geskep met sy rapportering van ‘n klaarblyklike wetenskaplike waarneming iewers langs die kus van Japan. ‘n Trop ape het geleer om hul patats eers te was voor hulle dit eet. Ander aap-families het afgunstig na hul netjiese smullery geloer en ook begin om hul groente te was. Die gewoonte het posgevat, en toe daar omtrent so honderd patat-wassertjies op die eiland was, het die mode skielik versprei na ape op ander eilande ook.

En dit is die idee van ‘kritiese massa’: sodra daar genoeg ape is wat iets doen, begin die ander ook.
Hulle na-aap.

Nou ja toe. Vandag nog word oor hierdie teorie gestry en gedebateer. Ek sê mens hoef nie ape te tel om te sien hoe aansteeklik gedrag is nie. En met 7 biljoen aperiges deesdae op die aarde, kan jy seker net jou kop skud oor reality tv en rap-musiek.

Die arme ape kan hulself nie help nie.

Friday, May 13, 2011

Het honde ‘n verbeelding?

Party honde jaag hul sterte, want hulle verbeel hulself dit is 'n haas.
Party mense jaag vinnig met karre, want hulle verbeel hulle hulle is haastig. 
Verbeelding is een van daai wollerige konsepte wat nodig was om te verwoord sodat mense dink hulle weet wat aangaan.
En ons doen baie goed sonder om mooi te verstaan hoekom. Verbeelding en glo is bloed-broers. Sowaar!

Die woord word ook gebruik om dinge te beskryf wat ander  glo nie bestaan nie, dikwels op ‘n afbrekende manier.
Dink jy die winters is kouer as voorheen? ‘Dit is net jou verbeelding! Almal weet die aarde word warmer.’
Dink jy jy is slimmer en meer verantwoordelik as die taxi bestuurder wat gister voor jou ingery het? Dit is net jou verbeelding. Die man werk met ‘n plan.
Verbeelding weef die werklikheid met moontlikhede aanmekaar. Die verbeelding spin stories en weef drome tot potensiaal. Maar verbeelding kan jou ook 'n lekker rat voor die oë draai. Gebruik dit versigtig.

Moenie jou verbeelding onderskat nie.
Dit beduiwel jou prioriteite en laat jou dinge doen wat eintlik nie so belangrik is as wat jy glo nie.

Ek verbeel my die beste manier om my dae te spandeer, is om in die son te lê. Ek verbeel my katte is my vyand. Die wortel van daai verbeelding lê in my instink. Dit is gegrond op die werklike ervaring van duisende brak-geslagte. Dit is nie my verbeelding nie.

Katte is my vyand.
Ek weet dit.

Sowaar as wat cupcakes die beste kos is.

Sunday, April 3, 2011

Wat mense en hoenders in gemeen het

Die hele wêreld kan verstaan word as stelle van teenoorgesteldes (dalk is dit die geheim agter Noag se storie?)
Daar is manlik en vroulik, lig en donker, kwalitatief en kwantitatief …

Al ooit gewonder wat sal gebeur as ons skielik ons vermoë om te tel verloor? Dink net hoe afhanklik die wêreld is aan tel:
Demokrasie: berus op stemme wat is getel word
Koekresepte: hoeveel eiers nou weer?
Petrolpryse: hoe ver moet mens ry en hoe kan mens spaar?
Dividente, aandele, die hele $%^£ ekonomiese stelsel.

Dink nou aan die dinge waar syfers nie ‘n rol speel nie.
Soos sit-in-die-son
En gesels-met-jou-pêlle.

Die enigste diere wat kan tel, is blykbaar hoenders. En hulle hou dit eenvoudig, basies net genoeg om hul kuikens bymekaar te hou.
Maar mense? Nee, zero is uitgevind, en oneindigheid, en komplekse en irrasionele nommers. Nederige outjies is geidentifiseer as priemgetalle, komplekse formules is gebou en selfs waarskynlikheid word bereken met vasgestelde sekerheid.

Nou ja.
Minstens vir vandag gaan ek op ‘n tel staking.
Probeer dit gerus. Wie weet wat kan gebeur …

Saturday, February 26, 2011

Die sewe brûe van Köningsburg


In die ou stad van Köningsburg was daar sewe brûe wat die stad van weerskante van die rivier verbind het met twee groot eilande. Daar was drie brûe vanaf elke oewer, twee van weerskante af na een eiland en twee van weerskante af na die ander eiland, en een brug wat die twee eilande met mekaar verbind het.
Dit was matematies onmoontlik om deur die hele Köningsburg te stap sonder om twee keer oor dieselfde brug te loop. Teken 'n prentjie en kyk self.

Jy sou dink dat mens iets hieruit kan leer. Brûe verbrand is een ding, nogal heel eenvoudig, maar om twee keer oor dieselfde brug te loop is ’n ander storie.
Nietemin soms noodsaaklik as jy die hele terrein wil dek.

Sien jy my punt?

As jy alles wil doen, moet mens bereid wees om sommige goed twee keer te doen.


Hopla!

Wednesday, February 9, 2011

Werk



Daar is verkeie maniere om na werk te kyk.
Dit hou mens uit die kwaad uit.
Dit dra by tot die ekonomie.
Dit veroorsaak dat nuwe dinge tot stand kom (somtyds).
Dit gee sommige mense ‘n rede om op te staan in die oggend.
Dit is ‘n plek om heen te gaan elke dag.
Dit is ‘n verskoning om nie iets anders te doen, waarvoor jy nog MINDER lus het nie.
Dit is nodig om geld mee te verdien.
Ensomeer, ensomeer…

Sommige dae is werk net iets om te doen sodat jy bly kan wees as jy dit nie meer hoef te doen nie.
Soos om jou kop teen die muur te stamp: dit is so lekker as jy ophou.

Tuesday, January 25, 2011

As ek 'n mens was...


As ek ‘n mens was, sou ek:

Moes geld verdien, ‘n bankrekening hê en ‘n kredietkaart, ‘n kar moes koop of ‘n taxi moes trotseer, ‘n trollie moes stoot in die supermark, moes weet hoe om te kies tussen sewe van dieselfde soort goed, almal waarskynlik sleg vir my, die weirdo’s in die ry by die kassier moes ontwyk, onthou om inkopiesakke te bring, my kredietkaart se pin-nommer ken, self my inkopiesakke huis toe piekel, dit uitpak, die kos maak, dit opskep, weer agterna alles was en wegpak. En dan weer nog geld gaan verdien want kos raak op.

Nou eet ek net. En ek worry oor niks nie.

En dit noem julle ‘n hondelewe?

Sunday, January 23, 2011

Die Groenewald familie


Oor die laaste jaar het ‘n paar dikkop families hier in ons buurt ingetrek. Dit is nou die voël-tipes; die menslike Dikkop-variasies is lankal volop.
Hierdie voël-goed is mos erg teritoriaal en op ons oggend staproete is daar twee loslopers wat ons elke dag teëkom. Vir duidelikheid sal ons hulle name gegee: Langhans Visagie en Piet Groenewald.
Langhans staan langs die besigste straat in die buurt. Vir lank het hy ogies gemaak vir ‘n langbeen meisiekind wat ‘n paar erwe laer af ronddwaal. Vir ‘n rukkie het sy opgeskuif en langs hom ingetrek, maar dit lyk vir my na ‘n aan-en-af verhouding.
Piet Groenewald is minder van ‘n pierewaaier: ‘n rustige kêrel. Hy staan op ‘n stil plek. Hy het gou getrou en hy en sy vroulief, kom ons noem haar Bianca, het met erns begin broei.
Hierdie dikkoppe is nou nie eintlik vlytige nesbouers nie, maar elke oggend, soos die son vroeër en vroeër begin opkom, het ons die twee om die beurt op die plek sien sit waar die eiers versteek was. En een skemeroggend hol die kuiken (en wat ‘n lelike kuiken is ‘n dikkop kuiken nie!) vrolik daar tussen die roosbome rond.
Piet en Bianca moes bontstaan.
Elke oggend is ons doodbenoud om te sien of die outjie die nag oorleef het. Daar is uile, en katte, en ‘n spul eendstert-kraaie. Dit is ‘n stryd om genoeg wurms bymekaar te kry. Die lewe is taf as jy so op die grond moet bly.
Naderhand staan die kuiken se kop net so hoog soos Ma en Pa Groenewald s’n en ons is verheug – die outjie het sowaar oorleef.
Maar een oggend is die dikkoppe weg en ons kry die treurige bondeltjie in die straat – kleinboet is platgetrap deur ‘n Dikkop in ‘n kar.
En dit kort voor Kersfees.

Maar eergister gaan stap ons weer, net voor sonop. Met die terugkom kry ons vir Piet en Bianca omtrent reg voor ons deur, blasend van trots. Om hul pote hol twee wollerige dotjies op lang bene rond.
Twee!
Omtrent dadelik het een by ‘n drein afgeduiwel en ons moes hom red. Wonder bo wonder oorleef hulle dag een, en vind hul pad terug na die roosbedding waar hulle veiliger is, ‘n hele ent met die bult af. Ons kry hulle donkernag in die straat: die kleintjies kan nie by die randsteen op nie maar ‘n buurman help hulle sagkens met ‘n besem aan.

‘n Nuwe buurtwag is gestig. Almal hou ‘n oog en elke dag groei die Groenewald-kroos bietjie sterker.

Ons hou duim vas.

Sunday, January 16, 2011

Occam se skeermes


Nou wil iemand weet hoekom die trol wat onder ons huis bly altyd die skuld kry as dinge hier skeefloop.
Hierdie iemand is natuurlik nie ‘n lid van ons gesin nie, andersins sou hy nie so ‘n gevaarlike vraag durf vra het nie.
Die afleiding dat die trol verantwoordelik is vir die skêr wat weer soek is, die skielike verdwyning van al die botter in die kombuis, die klein skrapie aan die linker agterdeur van die gesinsmotor en selfs sekere items op die kredietkaart staat, is bloot logiese kombuis filosofie.
William van Occam, ‘n Fransiskaanse kerk-ou, het in die 14de eeu al voorgestel dat dinge nie onnodiglik ingewikkeld gemaak moet word nie.
En omdat hy ook ‘n ‘Willem’ is (of was) kan mens gerus vir hom luister.
Ander moontlike teorië is dat iemand die skêr alweer gebruik het om ‘n stuk blik te sny. Die lemme is nou sat en daai iemand het die skêr in die tuin gaan begrawe voordat Mammie dit agterkom.
En iemand anders wou die teorie van katte met botter aan hul pote wetenskaplik beproef. Ek skryf dalk anderdag oor daardie resultate.
Die skrapie aan die kar en die kredietkaartstate laat ek aan julle verbeelding oor, maar julle sien my punt?

Dit is nie ‘n sleg ding om ‘n trol in die huis aan te hou nie.

Spoke en ander huismaats



Die ding met spoke is dat hulle maak net wat hulle wil. Hulle is, so te sê, bokant die gereg en dit help nie om vir ‘n spook te vra om by die voorgelegde reëls en regulasies te hou nie.
Dit is maar die beste om die vrede met hulle te bewaar. ‘Spook’ is ook ‘n werkwoord, en mens moenie met jou spook spook nie. Nie ‘n maklike geveg om te wen nie…

Ek beveel dus aan om ‘n spook laat spook na hartelus, of minstens totdat hy uitgespook is. Spoke het ‘n kort aandagspan en raak gou vervelig (en verveeld).

Ons het ‘n huisspook en ook ‘n trol wat onder ons huis bly. Die trol is lastig want hy dra goed rond.
Dalk is dit die spook wat dit doen, ek is nie heeltemal seker nie.
Boonop ruik die trol nie baie leker nie. Ek word baie keer beskuldig van onaardige reuke, maar dit is eintlik daai trol.
Sowaar.

Dit help om die twee van hulle in die rondte te hê, veral met my waghond werk. Hulle sorteer die meeste probleemgevalle maklik uit. Ek kan net bietjie grom en ‘n paar keer blaf, maar dit is eintlik die spook agter my wat die boewe laat spaander. Of die trol wat hulle met die pan oor die kop slaan.
Sien, trolle en spoke is baie territoriaal. Hulle het egter nie goeie sosiale insig nie en almal wat hier aankom is nie noodwendig boewe nie. Maar, nou ja!

Spook en Trol is ook soms goeie geselskap, maar net as jy baie, baie desperaat is.
En hulle hou ook niks van katte nie.
Dit tel in hulle guns, nie waar nie?


Sunday, January 9, 2011

Oujaarsaand op die dak.



‘n Paar mense het my nou al gevra waaroor ek en die kat nou eintlik gepraat het op Oujaarsaand, daar op die dak van sy huis oorkant die straat.
Wel, daar is ongelukkig nie ‘n kort antwoord op die vraag nie.
Julle weet mos hoe dit met oujaarsaande kan gaan, veral as daar ‘n flessie aapsap byderhand is.
En die kat is ook nie ‘n ou wat nee sê vir ‘n knertsie aapsap nie, so op sy tyd.
Ons het goed begin en oor allerhande dinge gepraat. Soos swaartekrag, byvoorbeeld. Al ooit gedink hoe lastig swaartekrag soms kan wees?
Veral as jy op ‘n dak sit en aapsap drink.
Hoe later hoe kwater, en ons het met allerhande slimmighede vorendag gekom. Onder andere het ons die ontwerpsfout bespreek wat gemaak is toe  smaakbekertjies net op die tong  gesit is. Dit sou soveel beter gewees het om hulle al die pad af met die keelgat te hê, tot in jou maag. Dan kan jy daai cupcake, byvoorbeeld, vir veel langer proe. Dit sal beter wees as smaakbekertjies by die maag ophou, natuurlik. Mens wil hulle eerder nie veel laer af in die derm akkomodeer nie …
Miskien vind een van hulle slim mense nog eendag smaakbekertjie oorplantings uit.
Moet net nie die kat s,n op my oorplant nie: ek wil liewer nie van vis hou nie.
Grillerig.
Ons het nog so ‘n paar ander slimmighede ook uitgeruil, en op ‘n stadium het ons begin sing. Ek onthou nie veel verder nie.

My kop was dae lank seer en ek het nou nog nie sover gekom om nuwejaarsvoornemings te maak nie.