Sunday, January 23, 2011

Die Groenewald familie


Oor die laaste jaar het ‘n paar dikkop families hier in ons buurt ingetrek. Dit is nou die voël-tipes; die menslike Dikkop-variasies is lankal volop.
Hierdie voël-goed is mos erg teritoriaal en op ons oggend staproete is daar twee loslopers wat ons elke dag teëkom. Vir duidelikheid sal ons hulle name gegee: Langhans Visagie en Piet Groenewald.
Langhans staan langs die besigste straat in die buurt. Vir lank het hy ogies gemaak vir ‘n langbeen meisiekind wat ‘n paar erwe laer af ronddwaal. Vir ‘n rukkie het sy opgeskuif en langs hom ingetrek, maar dit lyk vir my na ‘n aan-en-af verhouding.
Piet Groenewald is minder van ‘n pierewaaier: ‘n rustige kêrel. Hy staan op ‘n stil plek. Hy het gou getrou en hy en sy vroulief, kom ons noem haar Bianca, het met erns begin broei.
Hierdie dikkoppe is nou nie eintlik vlytige nesbouers nie, maar elke oggend, soos die son vroeër en vroeër begin opkom, het ons die twee om die beurt op die plek sien sit waar die eiers versteek was. En een skemeroggend hol die kuiken (en wat ‘n lelike kuiken is ‘n dikkop kuiken nie!) vrolik daar tussen die roosbome rond.
Piet en Bianca moes bontstaan.
Elke oggend is ons doodbenoud om te sien of die outjie die nag oorleef het. Daar is uile, en katte, en ‘n spul eendstert-kraaie. Dit is ‘n stryd om genoeg wurms bymekaar te kry. Die lewe is taf as jy so op die grond moet bly.
Naderhand staan die kuiken se kop net so hoog soos Ma en Pa Groenewald s’n en ons is verheug – die outjie het sowaar oorleef.
Maar een oggend is die dikkoppe weg en ons kry die treurige bondeltjie in die straat – kleinboet is platgetrap deur ‘n Dikkop in ‘n kar.
En dit kort voor Kersfees.

Maar eergister gaan stap ons weer, net voor sonop. Met die terugkom kry ons vir Piet en Bianca omtrent reg voor ons deur, blasend van trots. Om hul pote hol twee wollerige dotjies op lang bene rond.
Twee!
Omtrent dadelik het een by ‘n drein afgeduiwel en ons moes hom red. Wonder bo wonder oorleef hulle dag een, en vind hul pad terug na die roosbedding waar hulle veiliger is, ‘n hele ent met die bult af. Ons kry hulle donkernag in die straat: die kleintjies kan nie by die randsteen op nie maar ‘n buurman help hulle sagkens met ‘n besem aan.

‘n Nuwe buurtwag is gestig. Almal hou ‘n oog en elke dag groei die Groenewald-kroos bietjie sterker.

Ons hou duim vas.

No comments:

Post a Comment