Tuesday, July 13, 2010

Avonture in Tibet


Iemand het my gevra om meer te sê oor meditasie.

Ek het geleer hoe om te mediteer toe ek in Tibet was (op ‘n sending, natuurlik. Dit was baie koud). My leermeester was ‘n regte monnik, ‘n inwoner van ‘n klooster hoog in die Himalaja gebergtes. Hy het die kuns van meditasie weer direk van die Jeti af geleer.

Dit is reg: die Jeti. Die regte, egte verskriklike sneeuman.
Natuurlik bestaan hy!
(Om die waarheid te sê, daar is ‘n hele paar van hulle.)

En ja, ek het hom ontmoet. Ons was soort van maats.

Jetis is groot. Reusagtig groot, en hulle het ‘n sagte spierwit pels. As hulle doodstil teen die sneeu staan, kan jy hulle glad nie sien nie. Ek het dit ook al probeer, maar my swart kolle is bietjie van ‘n probleem.

Ek sien dat die mense hier rond ook soort van mediteer - ek sien soms hoe hulle dit voor die televisie doen. Of dalk is hulle net gehipnotiseerd.

Dit is baie maklik om sommige mense (en hoenders) te hipnotiseer.

1 comment:

  1. Ek ken vir Willem. Hy mediteer groot gedeeltes van die dag veral vroeg in die oggend, laat middag en dan natuurlik in die aand. Hy mediteer veral goed as hy op 'n dons duvet kan le saam met een van sy mense, of op die bank terwyl almal tv kyk. Jy kan se hy is 'n guru van meditasie.

    Partymaal skop sy bene en kreun hy terwyl hy mediteer, miskien omdat hy van die jeti droom of miskien droom hy van poodels. Daar is verseker ooreenkomste tussen Willem en die jeti, bv hulle asem, en ek kan glo dat hulle vriende was

    Hy glo definitief aan hipnose en wys dit deur die hipnotiese invloed wat sy kosbak op hom het.

    ReplyDelete