Thursday, November 25, 2010

Die epistemiologie van die hoender (ook bekend as 'hoenner')


Na aanleiding van die vorige pos wil iemand dadelik per e-pos my opinie hoor oor een van ons ander werfhoender vragies: Why did the chicken cross the road?

Hierdie vraag is natuurlik filosofies eerder as biologies. Of dalk het ek heeltemal die hoender aan die stertvere beet en dit is alles te wyte aan ‘n genetiese programmering van die hoenderbrein, soos wat hoenderbreine nou maar is, om oor ‘n pad te stap as hy een teëkom.

In my ervaring doen hoenders dit nie altyd nie (tensy mens hulle bietjie jaag).

Hulle weet nie eens mooi wat ‘n pad is nie.

Maar om terug te kom na die filosofiese moontlikhede van die vraag. My  eerste vraag oor die vraag is dit: hoekom wil jy weet?

En dit is wel belangrik om te verstaan waaroor vrae gaan voordat jy dit korrek kan antwoord.

Duidelik wil wie-ook-al-van-die-hoender-in-die-pad-wil-weet eintlik verstaan wat dit is wat enigeen inspireer om enigiets te doen.

En op hierdie punt is dit die einde van filosofie en ons is terug by biologie, en selfs by Darwin.

Die hoender het oor die pad geloop omdat hy vir een of ander stomme rede geglo het daar is ‘n beter kans vir oorlewing aan die ander kant.

En daar was nog nie karre in Darwin se dae nie

Die einde van ‘n ou debat



Soos almal weet, bestaan ons elkeen uit miljoene selle. Elke sel dra dieselfde resep om die hele gedierte te bou. Baie soos wat ‘n eier die patroon vir die hele hoender bevat.

En dit bring my by vandag se punt. Die hoender en die eier storie: dit is heeltemal irrelevant. Want die hoender kan die eier maak, maar die eier kan ook die hoender maak, want eintlik is hulle een en dieselfde ding.

Dit is dus heeltemal sinneloos om te wonder watter een was eerste daar.

Get it?

Hopla!

Friday, November 19, 2010

Die balans van teenoorgesteldes



Die kat hier oorkant SOEK my. En ek amuseer myself deur te droom van sy sagte pels tussen my tande. Sy rubberige katvoete om aan te kou. Sy snorbaarde om my tande mee flos.
Want dit sal al wees wat van hom oorbly as ek met hom klaar is.

Die wolfhond af in die straat het weer dieselfde fantasie oor my. Ek weet, want elke oggend as ons stappie onder sy muur verbygaan, kondig hy sy planne af aan die hele buurt met sy dik wolf-stem.
Hy praat lelik, hoor.
En ek praat terug, want hy kan my nie bykom nie.
Onthou hy is nommer een op die lys van verdagtes, sou ek dalk spoorloos verdwyn.

Maar nou ja, hoe vervelig sou die lewe nie wees sonder vyande nie …

Monday, November 8, 2010

Haastige hond



Een ding wat kom met ouderdom is die wysheid om te besef dat dit wat met spoed gedoen moet word, selde die moeite werd is.
Dit tel nou nie as jou huis besig is om af te brand nie, of as daar ‘n kat oor die straat loop nie.
Dit is natuurlik ‘n ander saak.
Wat laat mense dinge oorhaastig doen?
Gewoonlik die feit dat hulle nagelaat het om dit te doen toe dit nodig was. Toe daar tyd was om dit behoorlik te oordink en te beredeneer, waar was hulle toe?

Miskien het daar ‘n kat oor die straat geloop, op daardie dag ...

Friday, November 5, 2010

Feëtjies en feminisme


Ek kry julle wyfies jammer.

Voorheen was dit goed genoeg om geseënd te wees met bokkie-oë, blink hare en miskien ‘n ruim buustelyn. Maar deesdae moet ouers ‘n horde goeie feetjies na die doop-partytjies van hul dogters nooi. Want fisike bates is nie meer genoeg nie, deesdae moet meisies ook hul man kan staan.

En dit vat vlytige vernuf, senuwees van staal en ‘n ambiesie-klier heelwat groter as die gewete.

Los maar die vladderende ooglede en opskuif-rompies: ‘n goeie besigheidsplan bring jou veel verder. 

Wednesday, November 3, 2010

Die Marsmanne het geland?



Al ooit die gevoel gekry dat die hele wêreld skielik vreemd is?
Jy staan een oggend op en die kat kom skuur teen jou. Normaalweg sou hy eerder sy kloue teen die kaasrasper afskuur as om enige vorm van toegeneendheid teenoor jou te demonstreer.
Die posman is hondsdol. Moet wees, want hy grynslag vriendelik vir jou en vertel vir die buurvrou hoe lief hy is vir brakkies.
Njar.
Dan, o wee! Jy stap om die hoek, soos gewoonlik, en skielik tref die gedagte jou dat jou blaf dalk nou as erger as jou byt beskou word.

Maar ek gee my nie sommer so oor aan selfvertwyfeling nie!

Tyd om die kat weer ‘n ding of wat te wys.
Jammer, posaflewering gaan ook traag wees oor die komende dae …

Monday, November 1, 2010

Om hoenders te leer vlieg



Een manier om van die wêreld ‘n beter plek te maak, is om wat jy ook al weet vir ander mense te leer. En as jy self nie vir iemand iets kan leer nie, om iemand anders te soek wat kan help.
Dit is regtig lekker om te sien hoe ander presteer, en jouself te verbeel dat jy dalk, iewers, iets gedoen het om dit moontlik te maak.
Ken daai gevoel? Almal het dit al reggekry, iewers, met iemand.
Maar die mislukkings kos net soveel in negatiewe emosionele energie.
Soos die oumense gesê het: jy kan ‘n perd tot by die water bring, maar …

Miskien lê die sleutel tot sukses hier ook om nie die onmoontlike te probeer doen nie. Sorg dat die perd wat jy water toe lei, eers goed dors is. En moenie sukkel met ‘n perd wat whisky bo water verkies nie.

Volgens hierdie logika lê die sleutel tot sukses nie in wat jy regkry nie, maar ook wat jy aanpak.

Dit mag dalk wel waar wees, maar daar is ‘n sekere kick  te kry as mens die onmoontlike kan regkry …

Kyk nou maar na die muis wat ek leer katte jaag het (toe hy nog geleef het, was hy my eerste assistent), en al die vlieënde hoenders in my buurt …