Wednesday, January 14, 2015

Almal het een of ander talent. Sing, dans, moeilikheid maak . . .
Sommige geseëndes onder ons is gebore niksdoenners. Andere moet met doelmatigheid hierdie fyn kuns bemeester.
Die eerste vereiste is dat jy min of meer met jouself oor die weg moet kom. Niksdoen is nie iets wat jy in ongure geselskap wil aanpak nie. Vrede is nodig. As jy niks belangriks vir jouself te sê het nie, het jy al ver gevorder. Ernstige innerlike gesprekke sal alles belemmer.
Al wat oorbly is om dan niks te doen nie.
Moet net nie vir ‘n oomblik dink dat niksdoen tot niks lei nie. Niksdoen maak ruimte vir dinge om te gebeur. Spasie is nodig vir enige nuwe dinge wat dalk mag vorendag kom en as jy dit nie aktief ruimte skep nie, bly dinge benoud en beperk.
Niksdoen is dus ‘n uiters kreatiewe offening.
Ek skryf op allerhande plekke. Op reis. In restaurante. Dis ‘n nare gewoonte waarvan mens moeilik onstlae raak. My lewe is vol rekenaars en notaboeke. Elke plek het ‘n moontlikheid om besig te raak en wegkom om sommer net niks te doen gebeur nie sommer nie. Dit moet aktief nagejaag word. Stap help, of om op ‘n plank agter die verste brander te dopper. Daar waar papier en selfone nie kan bykom nie.
Maar mens moet ook weet wanneer om op te hou, want niksdoen is erg verslawend.
Wees gewaarsku!


Monday, October 1, 2012

Katte/hekse

Vir die van julle wat belang stel: ek het sowaar nog nie 'n enkele kat in Oxford gesien nie. Dit is dalk 'n sameswering, 'n komplot. Onheil is waarskynlik elders aan die broei en dit vereis al die kat-aandag om daar te wees.
Sommige katte mag dalk hier agtergebly het (om my in die oog te hou) maar vermom hulleself as brandweerkrane, rugsakke van studente of sommer net potte vol malvas.
Nes ek naderkom.
Ek reken die katte hier is almal lede van hul eie kolleges, skuinsweg geaffilieer aan die 38 (sommige se 39) mens-kolleges van die Universiteit. Iewers in hul stigtingsverbonde sal daar miskien verwysings wees na hul kat-knope. Maar vandag, in die moderne tyd, het die katte tien teen een heeltemal afgestig en ondergronds gegaan. Moderne akademie is gans te vervelig.
Verseker het hulle hulle eie tradisies en rituele soos neergele deur die hekse wat aanvanklik deel was van hul fakulteit. Ek het iewers gehoor dat, in die tyd van die vervolgings en openbare verbrandings, baie hekse die vorm van katte aangeneem het. Dalk het hulle dit so gerieflik gevind (die stert, jy weet, en daai sagte pote vir bekruip) dat hulle sommer katte gebly het. Van hulle het sekerlik die kuns heeltemal verleer om weer te vermenslik, maar dalk is daar nog 'n paar ...
Ek twyfel of hulle nog hier in Oxford bly. Die plek het te veel vorme van oe wat geskiedenis ken.
Maar aan die ander kant, die vermetelheid van katte/hekse is wyd bekend.

Saturday, September 29, 2012

Klipduiweltjies

Starbucks: hierdie mense verdien sowaar hul geld op 'n waardige manier.
Terwyl studente wakker word in hulle colleges, akademiese drag netjies opgevou in hulle kas saam met meimeringe oor die Sokratiese Metode en die beginsel van onsekerheid, terwyl die geregistreerde bedelaar in Queenstraat sy hond 'n skop gee om wakker te word vir die dag se werk en terwyl die busbestuurder wat ons aangery het van Heathrow sy e-pos lees oor melkerige tee in 'n kombuis iewers in die buitewyke van die dorp, kan ek my knus latte in vrede geniet.
Een of ander 50ger jazz-koning pruil in die agtergrond. Ek behoort sy naam te ken, maar dit ontgaan my.
Dalk na nog 'n slukkie skuimerige kafeien ...
Later gaan ons na Einstein se swartbord kyk in die History of Science museum. Ek is kinderlik opgewonde daaroor. Wat ook al daarop staan - sou hy dit anders uitgedruk het as hy geweet het dat iemand die skrifseltjie so sou bewaar?
So los ons debris agter ons wat soms betekenis kry in 'n ander konteks. Dit kan gevaarlik wees: die onbewaakte blik, die Freudiaanse slip, die krabbels in die kantlyn. Die nonsens wat mens skryf op 'n Saterdagoggend in Starbucks, terwyl Oxford wakker word.
Die klipgesiggies wat die rande van die hoe mure van die geboue hier versier is nie gargoyles nie ('n ware gargoyle het 'n werk: hulle is gemaskerde geute en hul taak is om reenwater weg te voer en die dak droog te hou). Hierdie outjies is grotesques. Die grotesques van Oxford pas die strate op met ongekentelde humor. Groot oe, 'n speelsheid in vorm en hulle statigheid aan die wortels op en plaas die hele plek in fanstasie.
Die Groen Man in die hoek van die Sheldonean teater - hy is nog nuut, 'n onlangse toevoeging, maar reeds tydoos. 'n Ry teen die muur van Exeter College wat die naam van die eerste vroulike hoof uitspel. Elkeen met sy eie storie, of deel van 'n gemeenstkaplike verhaal wat vertel word vir die wat boontoe kyk.
Nog 'n gunsteling karakter wat ek teegekom het: die Lincoln imp. Die outjie is verewig in steen bo teen die muur tussen die digte ivy van die groot quad waar die gras so perfek is omdat niemand daarop mag loop nie. Ek is seker die imp kom skuur daarop met sy kaal boude met elke sekelmaan.
Die storie is dat twee van hulle, twee sulke imps, in 'n kerk ingevaar het en amok begin maak het. Baie soos Dr Seuss se Thing One en Thing Two). 'n Engel het it 'n gesangeboek gespring en die outjies berispe. Een imp (ek weet nie wat op die ou einde van hom geword het nie - ek vermoed hy is nog los iewers) het onder 'n tafel gaan wegkruip van pure skrik. Die ander een het sy tong uitgesteek en met 'n paar obsene gebare aan die engel verduidelik wat hy van sy ma dink.
Die engel het in 'n buis van on-engleagtige woede die imp in steen verander.
En daar sit hy nou, hoog tussen die takke, en loer vir ons met 'n vonkel in sy klip-oog.
Ek hou van hom.

Friday, September 28, 2012

Tussen die Cherwell en die Thames

Daar is 'n kruis in die middel van die straat waar iemand (meervoud: mense) verbrand is. Martelare. Ek moet 'n foto gaan neem.
Maar selfs op hierdie strate kan jy nie wegkom van jou eie verwysingsraamwerk nie. Die teenwoordigheid van my reisgenote blok my gewone vermoe om met my verbeelding deur die muur van tyd te breek en ek kan my min van die gebeure voorstel.
Ek weet die plek is belangrik.
Ek weet Christ College het 18 Britse eersteministers opgelewer en Einstein was daar.
Ek weet hierdie is die plek van briljansie, geskiedenis en bowe al ego's.
Maar dit is klein. Net 'n soort diep dorp: lae en lae van menslike wil en ambisie, opgebou oor eeue tot die miershoop-geboue van geel steen wat vandag so statig baklei vir aandag.
Ons het bier gedrink in die Eagle and Child, en stories gehoor van mense wat sowaar Tolkien se hand geskud het. (Bloemfontien? I was born there!)
Ons het in 'n Thai-restaurant gaan eet wat weggesteek is in 'n stegie wat jou van weerskante kan ondersteun as die Chan jou dalk oorweldig op pad terug.
Die strate is vol vreemdes van taal, nie te haastig op pad na hulle onbekende woelinge. Straat-dinge: doen sommer net inkopies of ontmoet vriende vir koffie.

Oxford vandag is veilig, amper gewoon.
Die stad laat die mense toe om gewone lewens te lei, hier waar ...
Hier waar ek 'n voeltjie oor die kobbelstraat sien hop, net duskant die Magdalene brug. En skielik is die voeltjie net 'n herfsblaar wat teen die randsteen waai ...

Tuesday, September 25, 2012

Voordag

Ek wonder wat die kat oorkant die straat daarvan dink as ons so wegraak op een van ons reise.
Sy is nie baie slim nie (met alle respek aan haar, want sy is 'n dame). Sy reken waarskynlik ons hou op bestaan, iets soortegelyk aan die dood, en dan pop ons weer 'n week of wat later weer wonderbaarlik terug in ons ou lewens en gewone roetine.
Katte het waarskynlik 'n heel ander persepsie van hierdie dinge, weens hul nege lewens.
Hoekom 'n kat nege lewens nodig het is nog 'n ander vraag. Die konsep van reinkarnasie is aantreklik - daar is immers baie dinge wat gedoen wil word. Maar nege lewens vat dit dalkies net te ver, dit is nou as jy in dieselfde kat-lyf moet bly.
Blykbaar is die weer by ons bestemming misrabel. 'n Front beweeg in van die Noorde om ons te verwelkom. Spesiale wense van die ysbere en so. Daar is natuurlik niks aan te doen nie en ons het 'n opvou-sambreel.
Ek is vreemd-onwillig om my knus voorstedelike bestaan met sy bekende onsekerhede te ontduik, al is dit net vir 'n tydjie. Die vreesloosheid van my jeug het al sy les geleer en ek weet lughawens en vliegtuie is ongemaklik.
Maar om eers daar te wees! Om die Oxford van die boeke en my verbeelding met die werklikheid te vergelyk! Natuurlik sal ons vasgevang word in net nog 'n dimensie van persepsie (Lyra se Oxford, Willem se Oxford?), maar ...
More-oggend die tyd sit ons soos ertjies in 'n peul gepak, iewers oor die middelandse see, en eet spek en eiers uit klein vierkantige plastiekbakkies. En 'n paar ure later: Hopla!

Monday, September 24, 2012

Op reis met wyfies

"Wat wil jy in Oxford gaan maak, Willem?"
Dit is wat almal wil weet.
Wel, ek was nog nooit voorheen daar nie. Sowaar.
En dan is daar die ding met hekse. Noem dit navorsing.
Dit het waarskynlik begin met die heks in Engeland, wat wrintiewaar so wragtigies amper vir Adriaan opgeeet het.
Dit sou 'n gemors gewees het. En daar is nog 'n ander heks in my lewe, maar daaroor praat ek nie graag nie. Nie nou al nie.
Hoe dit ook al sy, ek dink ons is amper gereed om te gaan. Nie dat daar enige teken van voorbereidings is nie. Nee, alles is mos elektronies. Vliegkaartjies. Hotelbesprekings. Die bespreking vir 'n bussie om ons lughawe toe te vat. Elektroniese kaarte, elektroniese boeke om op die lang vlug te lees.
Elektroniese musiek.
Iemand sal 'n stel onderklere en 'n tandeborsel een of ander tyd in 'n sak moet gooi, maar ek sien dit nog nie gebeur nie.
Is ek opgewonde?
Hopla!

Friday, December 30, 2011

Oor Chihuahuas en nuwejaar

Koebaai ou jaar! Jy is omtrent gedaan. Ek en die kat gaan jou ordentlik die pad wys - vanaand op die dak!
Kyk, dit is een van my baie rituele wat ek nie mis nie. Vandat ek hier in die suburbs ingetrek het, vier ek en my aardsvyand (die bure se kat) die jaarwisseling so saam-saam op die dak van hulle motorhuis. Dan sit ons ons verskille eenkant (en glo my, dit is ‘n sware vraggie van onderonsies om opsy te stoot) en hou saam partytjie.
Verlede jaar het ek hom leer blaf. Net ‘n paar goeie slukke whiskey, en toe blaf daai kat.
Soos ‘n wafferse Chihuahua!
Het julle geweet Chihuahua is ‘n regte plek, in Mexico? Daar is ‘n woestyn en ‘n dorp en ‘n klomp mense wat almal Chihuahuas aanhou. Die rede hoekom hulle honde so lyk word verklaar deur die geografie van die streek: droog, warm en net kaktusse wat oral groei. Die gevolg is dat almal leef van tequila*: ontbyt, middagete en aandete. Honde en katte ook. Die res laat ek aan julle verbeelding oor, maar nou weet julle waar kom Chihuahuas vandaan.
Dit is nog betwisbaar of die ras aan die hond- of aan die katfamilie behoort. Na laasjaar se ervarings neig ek na die kat-teorie se kant toe.

Wie weet wat ek vanaand gaan regkry?

My eksperiment duur voort  - tot volgende jaar!

*Tequila is ook 'n dorp in Mexico. Hopla!