Monday, October 1, 2012

Katte/hekse

Vir die van julle wat belang stel: ek het sowaar nog nie 'n enkele kat in Oxford gesien nie. Dit is dalk 'n sameswering, 'n komplot. Onheil is waarskynlik elders aan die broei en dit vereis al die kat-aandag om daar te wees.
Sommige katte mag dalk hier agtergebly het (om my in die oog te hou) maar vermom hulleself as brandweerkrane, rugsakke van studente of sommer net potte vol malvas.
Nes ek naderkom.
Ek reken die katte hier is almal lede van hul eie kolleges, skuinsweg geaffilieer aan die 38 (sommige se 39) mens-kolleges van die Universiteit. Iewers in hul stigtingsverbonde sal daar miskien verwysings wees na hul kat-knope. Maar vandag, in die moderne tyd, het die katte tien teen een heeltemal afgestig en ondergronds gegaan. Moderne akademie is gans te vervelig.
Verseker het hulle hulle eie tradisies en rituele soos neergele deur die hekse wat aanvanklik deel was van hul fakulteit. Ek het iewers gehoor dat, in die tyd van die vervolgings en openbare verbrandings, baie hekse die vorm van katte aangeneem het. Dalk het hulle dit so gerieflik gevind (die stert, jy weet, en daai sagte pote vir bekruip) dat hulle sommer katte gebly het. Van hulle het sekerlik die kuns heeltemal verleer om weer te vermenslik, maar dalk is daar nog 'n paar ...
Ek twyfel of hulle nog hier in Oxford bly. Die plek het te veel vorme van oe wat geskiedenis ken.
Maar aan die ander kant, die vermetelheid van katte/hekse is wyd bekend.