Thursday, October 28, 2010

Sjokolade en ander toemaar-goed



Asof ons nie genoeg probleme het met verkeer en politiek nie, jaag eksamens en dinge almal se stress-vlakke tans nog verder op.

Ek het my beertjie, en ek gaan nêrens sonder hom nie. Ek erken ruiterlik dat hy my troos en my laat veilig voel.

Ander ouens gryp weer na die naaste doos sjokolade. Iemand wat ek ken sê Vatso! Koop nog Cadbury en Nestle aandele.

Maar dit is ook ‘n vorm van toemaar-gedrag, is dit nie?

Ek dink dat die meeste kopery, sagte kussings en losbandige gedrag op vele vlakke dikwels toe te skryf is aan ‘n behoefte om van oortollige adrenalien ontslae te raak, of dit minstens te verdoesel onder ander substanse of hormone.

En vrae selfs die sogenaamde adrenalien junkies hoekom hulle daardie piekvlakke soek: want dit is so lekker om weer daarvan ontslae te raak!

Soos my oupa altyd sê: die beste ding van jou kop teen ‘n muur kap, is om op te hou …

Sterkte.

Wednesday, October 27, 2010

Lewe en dood



Ons is almal geprogrammeer om te verouder en dan te sterf.
Vir ‘n kort rukkie floreer ons, en dan moet ons weer plek maak vir nuwes van dieselfde soort. Ons word ge-‘recycle’.
En die Natuur mors met niks.
As een van ons doodgaan, is dit dikwels ‘n tragedie. As ‘n klomp van ons gelyk doodgaan, is dit ‘n ramp. Maar vir die groter organisme van die lewe is dit deel van die daaglikse metabolisme en ons word gou vervang.
Alles gaan voort.
Wat probeer ek sê? Dat individuele pyn klein is in vergelyking met groter ellendes soos hele spesies wat verdwyn?
Snaaks, maar dit werk ook nie so nie.
Dit is alles ‘n kwessie van skaal.
En as deel van die groter geheel, maak elke mossie wat val wel saak.

Tuesday, October 26, 2010

Om te veg, of te dans


Konflik konsultante het allerhande slim raad. Hier is myne, gratis:
Moenie aan konflik as moeilikheid dink nie. Dit veroorsaak dat jy ‘n hoop probleme het. Shame man.
Dink eerder daaraan as ‘n uitnodiging vir ‘n dansie.

As die bul storm, systap die matador grasieus en swaai sy rooi doek windmakerig. Swaardvegters het ook lankal geleer dat die mees elegante en uitspattige tegniek jou ‘n voorsprong gee.
Behalwe natuurlik as die ander ou ‘n geweer het.

Ek soek jou! Tree na vore.
Nou goed dan. Swaai jou hier, swaai jou daar, draai vinnig drie maal in die rondte en … Aa, jy het nie dit sien kom nie, nê?

Hopla!

Maar as jy dans, kan niemand verloor of ernstig seerkry nie. ‘n Dansvloer is ‘n spasie om te eksploreer, en positiewe energie te gebruik. As dit nie werk nie, sorg dat jy ‘n paar goeie handgranate in jou broeksak wegsteek.

Kaboem!

Monday, October 25, 2010

Verveling en vervelig



Wat is die verskil tussen gemaklike roetine en verveling? En wanneer raak mens vervelig?
Hier in die koelte van mens se middeljare is dit dalk nodig om daaroor te besin.
Ek is terug van my reise en kou nog lekker aan al die ervarings. Saterdagoggend sit die stoep ekstra lekker, en my kussing is baie bly om my weer te sien. Ek kan sien my huismens reken haar eie koffie is die beste in die wêreld en die kat oorkant die straat sou spekvet geword het as ek langer weggebly het.

Dit is lekker om weer by die huis te wees.

Mens moet net oppas vir te veel roetine.

Eers raak jy vervelig.

En dan verveeld …

Friday, October 22, 2010

Te veel en tevrede ...


Sewe dinge waarvan te veel ‘n slegte ding is.

  1. Versigtigheid. As mens baie versigtig is, moet jy dalk eerder heeldag in die bed bly. Dit is veiliger.
  2. Goeie smaak. Dit is goed, ja, maar te veel daarvan is sowaar boring!
  3. Mense wat altyd nice is. Dit is eenvoudig nie normaal nie.
  4. Katte. Een of twee om te jaag is lekker, maar meer is oorbodig.
  5. Goeie raad. As jy altyd daarna luister, sal jy nooit ‘n fout begaan nie. En dan leer jy niks.
  6. Base. Dit is goed om ‘n baas te hê sodat jy iemand het om vir alles te blameer. Maar dit is ‘n skepsel wat liefs op die agtergrond moet bly.
  7. Hare. Ek hoef seker nie verder te verduidelik nie.




Sewe dinge waarvan mens nooit genoeg kan kry nie.

Cupcakes
Avontuur
Idees
Liefde in al sy vreugdevolle vorme
Kussings
Roomys op stokkies
Kersvakansies.

Thursday, October 21, 2010

Burokrasie


Een van die grootste voordele van hondwees is dat ek nooit vorms hoef in te vul nie. Glo my, ek het al baie ander mense dinge in triplikaat laat uitskryf. Die registrasie van my geboorte (onthou, my bloedlyn is aristokraties), die sertifisering van my opleiding (onthou, ek is ‘n hoogs gekwalifiseerde hond), die talle hofsake en vonnise van skurke wat ek aan die pen laat ry het, die klagtes wat besorgde kat-eienaars al oor my ingedien het, die assuransie eise van eienaars van sekere motor-eienaars wat beweer dat hulle verf afdop waar ek my been gelig het …
Ek lag my dood.
Administrasie is werkskepping. Ledigheid is baie sleg vir amptenare. Daar is ‘n groot deel van die bevolking wat eerder in kantore weggesteek moet word. Hulle moet toeknoop hemde en dasse dra, want vader weet hoe lyk hulle in Speedo’s.

Reëls is die pilare van groot dele van ons samelewing. Anargie en nihilisme loop hand aan hand. As mense nie vir elke bakkatel in ‘n ry moet staan nie (of na deuntjies op die telefoon moet luister nie), wat gaan almal met soveel vrye tyd doen?
Meer as 6 biljoen mense op aarde. 24 uur in elkeen se dag, elke dag… hoeveel daarvan het JY aan die burokrasie geskenk vandag?

Dit is nou vir jou ‘n hondelewe …



Tuesday, October 19, 2010

Is jou lewe die moeite werd?



Nietzche was weird. Een van sy beter idees was die een van ‘continuous recurrences’. Min of meer in die lyn van ‘daar is niks nuuts onder die son nie’. Maar die idee van hierdie herhaaldelike herhaling is ‘n lekker toets om te kyk of jy wel voluit leef.
Nietzche vra die vraag (nou nie in soveel woorde nie) ‘Hoe sou jy voel as jy jou lewe, net soos dit nou is, oor en oor en oor moet beleef?’
Ek sê Hopla! Laat waai! Want ek doen wat nodig is: is dit nou ‘n boef of ‘n kat of ‘n bak kos; ek sorteer dit uit.
En ja, vanoggend se stappie sal ek graag weer doen al was dit reënerig. En ek het genoeg geslaap en gedagdroom vandag en vir my mense laat weet ek was bly hulle het uiteindelik by die huis gekom nadat hulle heeldag lank geld verdien het sodat ek gemaklik leef.

Mens moet seker maak jy doen als reg.

Wat die kat betref: hy het ‘n probleem.
Maar ek dink nie hy stuur hom veel aan Nietzche nie.

Monday, October 18, 2010

Sewe trieks vir luiaards


1.     Moenie goed aanpak wat jy nie met groot flair kan uitvoer nie. Doen net goed wat jy baie goed kan doen. Dit spaar moeite en resultate is verseker. As jy dit kan regkry om heeltyd te leer hoe om goed te doen, kan jy dit dalk ooit vermy om dit ooit regtig self aan te pak.
2.     Werk altyd saam met slimmes in ‘n span. Oppas: loosers kan ook baie slim lyk. Ontwikkel dus jou vermoë om mense goed te takseer. Dit spaar baie moeite.
3.     Glo my, daar is ‘n rede hoekom mens ‘n resep gebruik as jy koek bak.Spandeer dus tyd om goed te beplan (verkieslik in ‘n gemaklike posisie, met jou oê toe. Mense wat jou so sien, sal ook naderhand verstaan dat jy besig is met ‘n belangrike fase van jou projek, en nie noodwendig slaap nie. Nietemin, oppas vir snork.)
4.     Maak ferm beloftes vir ‘n baie skraal resultaat, en doen jy wat jy beplan het om te doen (en dit is gewoonlik effens minder as wat jy behoort te doen), maar almal is beïndruk.
5.     Moet jou nooit probeer slim hou nie. Dit skep onnodige  verwagtinge
6.     Moet nooit vir ander mense vertel hoe hard jy werk of hoe besig jy is nie. Hulle werk waarskynlik regtig so hard en is dalk regtig so besig en is die kans is skraal dat hulle jou gaan jammer kry.
7.     Maak doodseker dat, indien jy vir ‘n slag iets doen, almal deeglik bewus is daarvan dat jy dit gedoen het. Jy sal verbaas wees hoe maklik jou moeite as vanselfsprekend aanvaar word!

    Sunday, October 17, 2010

    Voordelige misverstande


    Gister se koerantopskrifte het weer getuig van die wonderlike verhouding tussen mens en hond.
    Honde geniet gelyktydig ‘n absolute rampspoedige verhouding met die menslike ras, in sommige gevalle, terwyl mense soms oorboord gaan in hulle liefde vir ons.
    En ons assosiasie met julle duur voort, waarskynlik as gevolg van ‘n algehele misverstand tussen ons twee spesies.
    In die algemeen werk sulke klassieke misverstande goed. Kyk maar na mans en vrouens, ouers en kinders. Oral is voorbeelde van hoe lewende wesens saamleef in die valse geloof dat hulle goed is vir mekaar, en mekaar nodig het.
    Op een of ander manier werk dit tog ten geode uit.
    Het honde mense nodig? Ja. Julle krap ons agter die ore en dan voel ons asof ons konings is.
    Het mense honde nodig?
    Verseker. Ons waai ons sterte vir julle en daar is sin in die dag.
    Julle gee ons kos, ons laat julle dink dat daar iewers ‘n bron van onuitputbare liefde is.
    En sodoende skep ons dit, vir mekaar.

    Saturday, October 16, 2010

    Oorsaak en gevolg.


    Wie het nou kon dink dat seerowery so ‘n positiewe effek op natuurbewaring kan hê?

    My vriend Preci Vidot (hy met die poniestert en die soutwater in sy are) glimlag van oor tot oor en sê dat hy graag vir elke seerower aan die ooskus van Afrika ‘n dop sal wil koop. Hulle bedrywighede hou die Japanese stropers weg. Nie net is hulle bang dat die seerowers hul sal vang nie (en die lospryse is hoog) maar die skerp oge van die Franse en Engelse vloot hou nou die waters stip dop. En die Japanese beter hulle gedra en vir 'n verandering die gebiedwatergrense respekteer.

    Gevolg: die seelewe in daardie deel van die oseaan kan weer asem skep.
    Vis is weer volop, en Preci kan die verskil sien aan elke dag se vangs.
    Vir klein vissermanne soos hy, wat sonder gierigheid vis met handlyne of met palmblaar kuipe vang, is die lewe weer beter.

    En al die gediertes wat so sinneloos deur die sleepnette vermoor word, swem vry.

    Hopla!